Navorsingsverslag 2007/2008
5.
Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is (Bylae I en II)
Projekte indeks
Projek titels
- Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
- Nasionale sojabooncultivarproewe
- Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld
- Invloed van SO2 en die interaksie daarvan met droogte, op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (G.Max), bestudeer in 'n OTC-stelsel
- Chemiese beheer van plant-parasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika
- Fenotipiese merkers vir wortelknoppie vormingsvermoë van sojabooncultivars
- Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes
- Bepaling van die epidemiologiese waarde van weerstand teen roes wat veroorsaak word deur Phakopsora Pachyrhizi in sojaboonlyne
- Die invloed van silikon op die beheer van sojaboonroes (Phakopsora Pachyrhizi) op sojabone
- Die ontwikkeling van bestuursgeoriënteerde kaarte vir langtermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika
- Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone
- Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir Sclerotinia stamvrot van sojabone
- Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal
- Evaluering van canola cultivars onder besproeiing
- Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing
- Evaluering van wisselbou met canola onder besproeiing
- Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – canola
- 'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap
- Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap
- Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerdery-stelsel in die droëland saaigebied van die Swartland, deur middel van 'n produsente-kompetisie
- N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
- Soutverdraagsaamheid van canola
- Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie
- Insekte en ander plae van canola
- 'n Vergelyking van die reaksie van Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes op verskille in dieëtproteïen
- Kalibrering van nabye infrarooi spektrometer vir analise van aminosuur analise in veevoer
- Aminosuur en proteinverbruik van braai broeihoenders op 'n mielie-soja dieët
- Die effek van beligting op die effektiwiteit van verbruik van dieëtproteïen by Cobb en Ross braaihoenders in Suid-Afrika
- Evaluering van "Distillers Dried Grains en Solubles" (DDGS) as 'n bron van proteïene vir hoenders en varke
- Inkomste- en kosteramings
- Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan modelle
- PNS webtuiste
5.1
Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
Mnr AJ de Lange
Die sojaboon teelprogram by die LNR-IGG was aktief tussen 1984 en 2007. Die hoofdoelwitte was die verhoging van opbrengs en proteïeninhoud. Aandag is ook gegee aan aanpassing by 'n wyer reeks biotiese en abiotiese stremmingsfaktore. Kruisings is gemaak en segregerende populasies is ontwikkel en verbeterde lyne is geselekteer. Stabiele lyne is geëvalueer in opbrengsproewe te Potchefstroom, Brits, Bethlehem, Bergville, Vaalharts en Cedara. Vier cultivars is vrygestel uit die program naamlik Egret, Stork, Heron en Ibis 2000. Lyne met weerstand teen knopwortelaalwurm is geïdentifiseer. Suiwer telende lyne en populasies met roes- en koueweerstand is geïdentifiseer. Gevorderde lyne met hoë opbrengspotensiaal is beskikbaar vir finale evaluasie en moontlike vrystelling. Al die lyne en populasies van die 2006/07-seisoen is geoes en sal in koelopberging gehou word. Gedurende 2007 het die sojaboonteler bedank uit die LNR. 'n Nuwe projek sal voorgelê word om 'n aantal lyne met aalwurm- en koue-weerstand finaal te evalueer en tot 'n logiese afhandeling te neem.
5.2
Nasionale sojabooncultivarproewe
Mnr JL Erasmus
'n Totaal van 30 cultivars was nasionaal op geselekteerde lokaliteite oor die sojaboonproduksiegebied aangeplant en 'n addisionele 30 cultivars was getoets in die fase-1-proewe op nege lokaliteite. Proewe was geplant by navorsingstasies waar die nodige infrastruktuur beskikbaar is om 'n volledige akkerboukundige studie te kan uitvoer. Dit was ook gepoog om proewe te plaas by lokaliteite waar inligting benodig word en waar die maksimum hoeveelheid data verkry kan word. Die volgende is noodsaaklike data vir 'n volledige fenologiese datastel: dae tot opkoms, dae tot blom, dae tot fisiologiese- en oesrypheid, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring en groenstam, relatiewe vatbaarheid vir siektes en insekte, saad-karakterisering en opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteite, asook grond- en weerdata. Alle data word in 'n rekenaardatabasis opgeneem. Die data van die drie verskillende hoofproduksiegebiede, naamlik koel, matig en warm word gebruik vir die berekening van oessekerheid en regressielyne. By die cultivar evaluasie vergadering gedurende September 2007 is daar vyf nuwe cultivars aanbeveel vir registrasie en plasing op die variëteitslys. Hulle is PAN 1664 R, PAN 1564, PAN 1669, PAN 1666 R en AS 4801. Die 2006/07-verslag van die nasionale sojabooncultivarproewe is ook aanvaar vir publikasie.
Die gemiddelde opbrengs vir die afgelope seisoen was 1 717kg ha-1 (2 538kg ha-1 vir 2006 en 2 582kg ha-1 vir 2005). Die beste opbrengs was verkry te Groblersdal (3 589kg ha-1), Atlanta (3 007kg ha-1) en Glen (2 951kg ha-1). Die cultivar met die beste gemiddelde opbrengs oor alle plekke was LS 666 met 1 888kg ha-1 en Sonop met 1 538kg ha-1 die laagste. Die cultivar met die hoogste proteïenpersentasie was Stork met 46.33% en die laagste was PAN 538 R met 41.65%.
5.3
Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld
Mnr WF van Wyk
Drie proewe is gesamentlik uitgevoer op UP-proefplaas in Hatfield, Pretoria naamlik:
- Rywydte, plantdigtheid en cultivar
- Bemesting
- Onkruiddoder
By die rywydte-, plantestand- en cultivarproef het sekere tendense te voorskyn gekom en alhoewel nie in alle gevalle betekenisvol nie, bestaan die moontlikheid dat die droë seisoen bygedra het tot die feit dat baie van die data wat gemeet is, nie betekenisvol verskil het nie. Sekere data (soos byvoorbeeld die persentasie 4-pit peule) het betekenisvol tussen cultivars verskil en dit kan aanvaar word dat dit 'n genetiese eienskap van die spesifieke cultivar is. Ook interessant is die feit dat die bostipe-cultivar by drie rywydtes (100cm, 75cm en 50cm) beter opbrengste gehad het as die regop-tipe cultivar. By die 25cm spasiëring het die regoptipe-cultivar egter 'n hoër opbrengs gehad. Die hoë plantdigtheid (400 000 plante/ha) het deurentyd beter presteer as die lae plantdigtheid (300 000 plante/ha). Ander navorsers vind veral in Amerika en Brasilië dat in jare met onder-gemiddelde reënval daar nie betekenisvolle verskille tussen rywydtes is nie.
Die bemestingsproef is in die beginfase waar daar gepoog is om die vrugbaarheid van die grond op sekere vlakke te kry waarna daar vanaf die volgende seisoen meer betekenisvolle verskille tussen sekere komponente waargeneem behoort te word. So byvoorbeeld het die kontrole persele in die meeste gevalle net so goed of beter gepresteer as van die behandelings waar redelik goed bemes is – dit wys daarop dat die vrugbaarheid van die grond goed genoeg was om nie betekenisvolle verskille tussen behandelings uit te wys nie. Daar is egter aanduidings dat met toedienings van P en K daar 'n verbeterde proteïen-inhoud haalbaar is. Die negatiewe korrelasie tussen die olie- en proteïen-inhoud het weereens navore gekom – hoe beter die proteïeninhoud, hoe swakker die olie-inhoud.
Die onkruiddoderproef is aangeplant sonder dat die onkruidspektrum bekend was. Spesifieke onkruiddoders is alleen of in kombinasie met ander gebruik om die effek daarvan op die onkruide en die opbrengs van die sojabone te toets. Ongelukkig het die meeste probleem onkruide (of moeilik beheerbare onkruide) soos uintjies (min), purperwinde (geen) en wandelende jood (geen) nie voorgekom nie en kon sekere onkruiddoders nie volgens potensiaal getoets word nie. Wat wel bereik is, is waar sekere groepe onkruide (breëblaar of grasse) geteiken was en daar goeie beheer was.
Aangesien dit weereens 'n droë seisoen was het die onkruide ook nie floreer nie en vandaar dan ook die feit dat die kontrole-persele(geen beheer) nog steeds goed gedoen het. Waar Roundup-Ready op verskeie tye na opkom toegedien is het dit geblyk dat toedienings op 2 weke (teenoor 6 weke) uiteindelik beter presteer het. Die vraag is egter nou of dit van langer kompetisie deur die onkruide teweeggebring is – of is dit a.g.v. die glifosaat wat die sojabone teruggesit het. Hierdie antwoord sal net gekry kan word indien daar ook 'n tweede stel kontroles is wat met die hand vanaf opkom skoongehou sal moet word. Die onkruiddoder Frontier het alhoewel dit volgens dosis op die etiket toegedien is, wel fitotoksiese reaksies op die sojabone gehad en behalwe dat dit 7 dae later as die ander behandelings opgekom het was daar maar 'n 50-60% stand. 'n Volledige vorderingsverslag is aangebied in Oktober 2007.
5.4
Invloed van SO2 en die interaksie daarvan met droogte, op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (G.Max), bestudeer in 'n OTC-stelsel
Dr PDR van Heerden, Prof GHJ Krüger, Me E Heyneke, Mnr PR Smit en Mnr R Strauss
Die navorsing gedurende 2007 het die volgende behels: (i) Die oprigting, en optimisering van 'n battery van 12 OTC-kamers, en (ii) Die blootstelling van proefplante aan 'n reeks SO2 konsentrasies oor 'n volledige groeiperiode waartydens deurlopend metings t.o.v. groei, fotosintetiese gaswisseling, chlorofil fluoressensie, chlorofilinhoud, blaar- en grondwaterpotensiaal, geneem is. Die werkshipotese was dat matige vogspanning die nadelige invloed van SO2 sou verminder omdat SO2 na verwagting sou lei tot verlaagde stomageleiding.
Die uitstekende beheerbaarheid van die stelsel is gedokumenteer. 'n Standaardprotokol vir die beheer en bestuur van die stelsel is opgestel wat vir voortgesette werk in die stelsel nuttig aangewend sal word.
'n Ultrastrukturele ondersoek van blaarmateriaal van G. max, wat 7 uur daagliks vir 35 dae blootgestel is aan SO2, het aan die lig gebring dat skade hoofsaaklik in die chloroplaste plaasvind. n Belangrike bevinding is dat fisiologiese en biochemiese beperkings ingetree het nog voordat sigbare simptome verskyn het. Hoewel 'n effense stimulering in die geval by die 50 dpb-behandeling voorgekom het, verlaag SO2-blootstelling die biomassa van soja betekenisvol. In droogte-gestremde, plante wat aan 300 dpb SO2 blootgestel was, was die afname in biomassa 57%. Peulgrootte en saadaantal is ook beduidend gerem. Bogrondse groei was erger geïnhibeer as ondergrondse groei. SO2-blootstelling het gelei tot 'n laer watergebruiksdoeltreffendheid (WUE). Analise van die gaswisselingsdata het getoon dat die SO2-geïnduseerde remming van fotosintese hoofsaaklik te wyte was aan bio-chemiese beperking en in 'n mindere mate aan stomatale beperking. Die opvatting dat matige vogstremming die nadelige invloed van lug-besoedeling (in hierdie geval SO2) kan verminder, is dus as verkeerd bewys.
Benewens die SO2-geïnduseerde afname in peulgrootte en saadaantal van G. max, het 'n omgekeerde verband bestaan tussen die SO2-konsentrasie van die behandelings en die ureïed-inhoud van die nodules.
Reeds by die 50 dpb behandeling was die afname in ureïed-inhoud van die nodules 25%, wat dui op die sterk remmende invloed van SO2 op simbiotiese stikstofbinding.
Met hierdie ondersoek is ook belangrike inligting verkry ten opsigte van die invloed van SO2 op primêre fotochemie (PSII-funksie), fotosintetiese gaswisseling, die ligrespons en karboksilase-aktiwiteit (Rubisco) van sojabone.
'n Oorsigtelike skema wat die sleutel fisiologiese en biochemiese aspekte van fotosintese toon en aangedui waar SO2 sy remmende invloed uitoefen, is saamgestel. Die implikasie van die bevindings vir gewasproduksie in hoogs besoedelde gebiede word bespreek.
5.5
Chemiese beheer van plant-parasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika
Dr H Fourie
Betekenisvolle oesverliese is 'n realiteit in sojaboonaanplantings aangesien geen aalwurmdoders tans op die gewas geregistreer is nie. Uitbreiding van sojaboonaanplantings na gebiede met sandgronde vererger die aalwurmprobleem verder. Die rede hiervoor is dat knopwortelaalwurms wydverspreid in die gronde voorkom en oesverliese by gewasse veroorsaak. Vervolgens is verskeie aalwurmdoders geëvalueer met die doel om moontlike registrasie daarvan vir die beheer van plantparasitiese aalwurms op dié gewas te ondersteun. Drie veldproewe is geplant tydens die 2005/06-groeiseisoen in die Nelspruit-, Vaalharts- en Hammanskraalomgewings waar natuurlike knopwortelaalwurm besmettings voorkom. Betekenisvolle verskille ten opsigte van knopwortelaalwurmgetalle per 50g wortels is verkry oor die drie lokaliteite tussen die 14 aalwurmdoderbehandelings wat ingesluit was. Drie van hierdie behandelings het betekenisvol minder knopwortelaalwurmgetalle op al drie lokaliteite getoon en het dus potensiaal om knopwortelaalwurmgetalle effektief te verlaag vergeleke met die onbehandelde kontrole. Verskeie ander behandelings het ook betekenisvol minder knopwortelaalwurms onderhou, maar slegs op een of twee van die lokaliteite. Aalwurmdoderbehandelings wat dus potensiaal getoon het om knopwortelaalwurmbevolkings betekenisvol te verlaag tydens die 2005/06 seisoen kan dus saam met sodanige behandelings wat dieselfde neiging getoon het tydens die vorige seisoen oorweeg word vir registrasiedoeleindes. Data oor residu-analises is egter 'n voorvereiste vir registrasie en dié moet deur die onderskeie maatskappye ingedien word. Wat oesdata betref, is geen betekenisvolle verskille verkry tussen die 14 behandelings nie. Omgewingstoestande (bv. oorvloedige reën) en grondeienskappe (pH) kon egter 'n bydrae gehad het tot laasgenoemde effek en moet in ag geneem word wanneer aalwurmdoders oorweeg word vir registrasie. Data wat verkry is tydens hierdie navorsing toon dat sekere aalwurmdoders aansienlike verligting kan teweegbring vir sojaboonprodusente waar hoë knopwortelaalwurmbevolkings voorkom.
5.6
Fenotipiese merkers vir wortelknoppie vormingsvermoë van sojabooncultivars
Me Urte Schlüter, Dr Riekert van Heerden en Dr Karl Kunert
Stikstofbinding in wortelknoppies bied 'n groot voordeel in sojabone in vergelyking met meeste ander graangewasse deurdat die sojaboonwortelknoppies die stikstof bind wat benodig word vir groei en produksie van proteïenryke sade.
Die lewensduur van die wortelknoppies is egter baie kort (11-13 weke) en stikstofbinding neem skerp af soos die wortelknoppies verouder, teen saadset het dit normaalweg amper heeltemal opgehou. Grondverdroging en hoë temperatuur verkort die lewensduurte van die wortelknoppies en beperk so stikstofbinding wat 'n groot invloed op saadproduksie, gewaskwaliteit- en opbrengs het. Die doel van die projek is om die huidige kennis rakende doeltreffend en maklik meetbare fisiologiese merkers wat van belang kan wees in 'n teelprogram, uit te brei. Die merkers sal kan help met die seleksie van sojaboon cultivars geskik vir verbouing in droër dele van Suid-Afrika. Spesifieke fokus word gerig op merkers vir verlengde lewensduurte van wortelknoppies gedurende droogte kondisies. Navorsing word uitgevoer by die Universiteit van Pretoria in noue samewerking met die Universiteit van die Noord-Wes asook die Universiteit van Limpopo waar hoë-opbrengs cultivars met potensiaal vir Suid-Afrika vergelyk word met 'n verwysingscultivar (Jackson) wat droogte weerstandbiedend is. Hoë verdrogingstempo's, veral as onvoldoende potgroottes gebruik word in eksperimente onder beheerde kondisies, kan dikwels tot onrealistiese watertekort simptome in plante lei wat die ekstrapolasie na veldkondisies bemoeilik. Om hierdie probleem te voorkom word 'n loodsstudie uitgevoer waar plante in groot (15l) potte getoets word met 'n gestandaardiseerde groeimedium met vyf spesiale glasvesel matte op verskillende vertikale posisies geplaas in die medium. Die glasvesel matte trek konstant water uit 'n tenk op in die groeimedium deur kapillêre kragte en hou die groeimedium by veldkapasiteit. Ons verwag dat die metode sal bydra tot die beheer en standaardisasie van die plantgroei/grondwater status. Watertekort eksperimente sal dan uitgevoer word sodra die plante blom wat 'n baie sensitiewe stadium vir watertekort gedurende die plantontwikkeling is. Watertekort sal by helfte van die plante meegebring word deur die hoeveelheid glasvesel matte wat water aan die potte verskaf te verminder, terwyl by die ander plante 'n optimum grondwater-status gehandhaaf sal word. Verskeie loot- en wortelknoppiefaktore sal gemeet word om die watertekort reaksie van verskeie sojaboongenotipes gedurende die watertekort behandeling te kwantifiseer. Die faktore wat gemeet sal word sluit in lootgroei, plant waterstatus, blaar chlorofil hoeveelheid, koolstof-binding sowel as wortelknoppies faktore. Voorlopige eksperimente sluit die basiese karakterisering van die wortelknoppies (aantal, grootte, kleur, vorm) in. Om die geldigheid van die visuele merkers te bepaal word dit met biochemiese analises van sleutel kenmerke van wortelknoppie metabolisme ondersteun soos sukrosintase aktiwiteit, wat 'n baie sensitiewe indikator van metaboliese potensiaal in wortelknoppies is, asook die nitrogenase aktiwiteit, leghemoglobien inhoud, uriede en koolhidraat inhoud.
5.7
Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes
Dr M Craven en Mnr TM Ramusi
Gedurende die 2006/07-seisoen is 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes geskep deur tien lokaliteite wat verteenwoordigend is van die belangrikste sojaboonproduksie-areas, te selekteer. Die lokaliteite was by Kestell (Vrystaat), Winterton, Greytown, Normandien, Vryheid (KwaZulu-Natal), Piet Retief, Morgenzon en Kinross (Mpumalanga), Heidelberg (Gauteng) en Potchefstroom (Noordwes).
Soos in die verlede is daar gepoog om die proewe drie tot vier weke voor die algemene plantdatum vir sojabone te plant. Twee cultivars met verskillende groeiperiodes (PAN 421 RR as kort- en PAN 522 RR as langgroeier) is geselekteer om in gelyke dele in elk van die proewe, wat elk ongeveer 2000 m² groot was, te plant. Plant en instandhouding van die proewe was die verantwoordelikheid van die betrokke produsente. Roetine waarnemings het op 18 Januarie 2007 begin en proewe is daarna op 'n weeklikse basis besoek. Streng sanitêre maatreëls is gevolg om te verseker dat geen spooroordrag tussen proewe plaasvind nie.
Dit het die dra van reënjasse en reënstewels ingesluit, wat na inspeksie van die proewe met 'n 70% Jik-oplossing afgespuit is. Wanneer roes op 'n lokaliteit waargeneem is, is elke betrokke produsent aangeraai om die perseel met toepaslike swamdoders te spuit of om dit tot niet te maak en alle plantreste te vernietig. Dit moet gedoen word om te verseker dat die perseel nie 'n bron van inokulasie word vir omliggende, kommersiële aanplantings nie. Die Heidelbergproef kon nie geëvalueer word nie aangesien die produsent die perseel tot niet gemaak het nadat uitgebreide skade deur hael en diere aangerig is. Roes is eerste by Greytown en Piet Retief waargeneem (26/01/2007). Daarna is dit by Vryheid (01/02/2007), Morgenzon (02/02/2007) en Normandien (22/02/2007) waargeneem. Geen roes het hierdie seisoen by Kestell, Winterton, Kinross en Potchefstroom voorgekom nie.
5.8
Bepaling van die epidemiologiese waarde van weerstand teen roes wat veroorsaak word deur Phakopsora Pachyrhizi in sojaboonlyne
Prof NW McLaren en Me C Botha
Die doel van die studie is om weerstand teen roes in sojaboon kiemplasma en opbrengsverliese te kwantifiseer. Dit is 'n opvolg studie oor die identifisering van gasheer eienskappe wat geassosieer is met die afname in roes strafheid en opbrengsverliese soos in cultivarproewe bepaal. (McLAREN, N.W. (2008) Reaction of South African soybean cultivars to rust caused by Phakopsora pachyrhizi. South African Journal of Plant and Soil 25: 49-54). 'n Hoof komponent wat epidemies beïnvloed en die finale siektevlak bepaal is die fisiologiese stadium wanneer die siekte eerste waargeneem is en dit het verskil tussen cultivars. 'n Betekenisvolle (P>0.05), negatiewe verhouding is gevind tussen die Area Onder die Siekte Ontwikkelingskurwe (AOSOK) en groei-stadium by eerste siekte waarneming. 'n Verhouding tussen opbrengsverlies en vroeë ontblaring is ook waargeneem wat 16-21 dae vroeër voorgekom het in langer seisoen cultivars.
Die studie het ook die kwantifisering van opbrengsverliese in 32 diverse epidemies ingesluit met 'n kort, medium en lang seisoen cultivar. Opvolgaanplantings het behandelings met carbendazin / flusilazole na blom ingesluit om vergelykings te maak met onbehandelde persele en 90 en 45 cm ryspasiërings. Roes voorkoms is nou gekoppel aan gasheer ontwikkelingstadium in die drie variëteite wat gebruik is en 'n betekenisvolle verhouding is gevind tussen tyd van voorkoms en AOSOK (R²=0.59, R²=0.61 en R²=0.64 in die kort, medium en lang seisoen variëteite onderskeidelik).
'n Betekenisvolle verhouding tussen die tempo van siekte ontwikkeling (vdPlank, 1963) en AOSOK is ook waargeneem (R²=0.69, R²=0.68 en R²=0.72 kort, medium en lang seisoen variëteite onderskeidelik). Integrasie van die twee veranderlikes in 'n veelvoudige regressie model het die verhouding aansienlik verbeter (R²>0.80) en het getoon dat seleksie vir die gasheer eienskappe betekenisvol kan bydra tot 'n vermindering in siekte strafheid. Opbrengsverlies analises is deur die spuitdoeltreffendheid omvergegooi en heelwat siekte het selfs in die swamdoder behandelde persele voorgekom. Spuitdoeltreffendheid het gevarieer vanaf 41-93% en modelle moes dus aangepas word om werklike opbrengsverliese te bepaal. Resultate het aangedui dat betekenisvolle opbrengsverliese selfs by swamdoder-gespuite persele kan voorkom en dat spuitdoeltreffendheid 'n belangrike veranderlike is by roesbeheer.
Lynevalueringsproewe het bestaan uit 478 inskrywings en proewe is op Cedara geplant. Persele is elke twee weke gemonitor vir roes ontwikkeling. Roes voorkoms was afhanklik van natuurlike infeksie. Data word geanaliseer. Epidemies word gemodelleer om die relatiewe leeftyd van lyne te bepaal wanneer die siekte ingetree het, die tempo van siekte-ontwikkeling en AOSOK. Twee-en-twintig lyne is geselekteer vir kruisings om te bepaal of populasies verbeter kan word vir siekte weerstand. Proewe word ook tans in die glashuis uitgevoer om die reaksie van lyne teenoor roes te bepaal gebaseer op latente periode, letsel tipe, grote en infeksie frekwensie. Roes versameling, identifisering van rasse en isolaat x gasheer genotipe interaksies word ook ingesluit in die studie asook die bepaling van meganismes van weerstand (fenole, anti-fungus proteïen) en omgewingsinvloede.
5.9
Die invloed van silikon op die beheer van sojaboonroes (Phakopsora Pachyrhizi) op sojabone
Ms Dael Visser en Dr Pat Caldwell
Silikon, as kaliumsilikaat, was vanaf die V3 groeistadium teen verskillende konsentrasies toegedien met 30 dae intervalle. Die proef het bestaan uit sewe behandelings waarvan een die swamdoder Punch C ingesluit het en ses konsentrasie silikon van 0, 100, 250, 500, 1000 en 2000 mg/L.
'n Ewekansige blokontwerp met vyf herhalings was gebruik en behandelings is aan 3 m x 3 m plotte met vier rye plante per plot toegedien. Die plante in die middelste twee rye was gebruik om die persentasie blaaroppervlak wat geïnfekteer was en, die area onder siekte ontwikkelingskurwe (area under disease progress curve AUDPC) asook die opbrengs te bepaal.
Sojaboonplante wat behandel was met Punch C het die laagste AUDPC (17.2) gehad terwyl die kontrole die hoogste waarde gehad het nl. 92.2. Die hoogste konsentrasie Si (2000 dpm) het 'n betekenisvolle laer AUDPC (64.8) gehad in vergelyking met die ander konsentrasies en kontrole. Verskille tussen die kontrole en ander konsentrasies was nie betekenisvol nie.
Opbrengs tussen die Punch C en 2000 Si dpm (634 en 697g) behandeling was nie betekenisvol nie. Dit was egter betekenisvol verskillend teenoor die ander konsentrasies. Weereens was die verskille in opbrengs tussen die kontrole en die res van die behandelings nie betekenisvol nie.
Toekomstige doelwitte
Met die herhaling van die proef in die 2008/2009 seisoen word die volgende doelwitte in die vooruitsig gestel:
- Om die invloed van meer konsentrasies Si te bepaal.
- Om die residuele effek van Si te bepaal. 'n Proef sal op die oorspronklike proef area van 2007/2008 gedoen word.
- Om te bepaal of Si saam met swam-, insek- en onkruiddoders toegedien kan word om insetkoste te bespaar.
5.10
Die ontwikkeling van bestuursgeoriënteerde kaarte vir langtermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika
Me Lauren van Niekerk en Dr Pat Caldwell
Sojaboonroes (SBR) het die potensiaal om sojaboonproduksie in Suid-Afrika en die wêreld te benadeel. Navorsing ten opsigte van die epidemiologiese eienskappe het tot gevolg gehad dat die invloed van temperatuur en vog op die ontwikkeling van Phakopsora pachyrhizi spore beter verstaan word. Min inligting is egter beskikbaar oor die gebiede in Suid-Afrika wat vatbaar is vir sojaboonroesinfeksies. Dit het tot gevolg dat produsente nie seker is of SBR 'n risiko inhou vir sojaboonproduksie nie. Risikobestuurspraktyke word dus nie toegepas nie.
Die doelwitte van die studie is om:
- Bestuursgeoriënteerde ruimtelike (spatial) kaarte te ontwikkel wat areas sal aandui wat 'n risiko inhou vir SBR infeksies en
- Om 'n raamwerk vir "near real-time" roes vatbare voorspellings te ontwikkel.
Databasisse sluit die volgende in:
- Weerdata van 'n outomatiese weerstasie op Cedara met weerdata van 1998 tot op hede en
- SBR proefdata wat verkry is gedurende die 2001/2002 en 2003/2004 sojaboon groeiseisoene.
Deur omgewingsparameters te gebruik kan 'n nuwe epidemiologiese algoritme ontwikkel, getoets en gemodelleer word. Alle algoritmes sal gemodelleer word deur die klimaatsdatabasis van Cedara te gebruik en te vergelyk met 'n SBR databasis vir dieselfde area op dieselfde tydstip. Die mees akkurate algoritme sal gekies word en dan gebruik word om 'n SBR model te ontwikkel vir die hele Suid-Afrika deur gebruik te maak van die 50 jaar databasis. Die resultate sal ruimtelik voorgestel word deur hoë resolusie kaarte. Afhangende van resultate kan bykomende kaarte ontwikkel word om gebiede wat herhaalde periodes van mis ervaar af te beeld en in te skakel in die finale risikokaart.
Na afloop hiervan sal 'n raamwerk ontwikkel word om "near-real time" roesvatbare voorspellings te maak. Hierdie raamwerk kan in die toekoms geïntegreer word in 'n vroeë waarskuwingsisteem om produsente in te lig ten opsigte van die moontlikheid van SBR infeksie gebaseer op huidige en voorspelde weerstoestande. Hierdie raamwerk sal voorafgenoemde model, "near real time" weerdata van outomatiese weerstasies regoor die land en weervoorspellings inskakel. Gegrond op hierdie raamwerk kan 'n waarskuwingsisteem ontwikkel word wat produsente kan inlig deur middel van epos of SMS dat huidige toestande gunstig is vir SBR infeksies. Produsente kan dan 'n bestuursbesluit neem of hulle swamdoders wil spuit al dan nie ten opsigte van SBR voorkoming.
Tans word die tweede algoritme ontwikkel en toetsing van beide algoritmes sal daarna volg.
5.11
Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone
Dr M Craven en Mnr WG Khali
Agtien sojabooncultivars is gedurende 2003/04 tot 2006/07 te Bethlehem en Greytown geëvalueer vir weerstand teen Sclerotinia stamvrot. Gedurende die 2003/04- en 2004/05-seisoene is drie opeenvolgende aanplantings gedoen en vier opeenvolgende aanplantings gedurende die 2005/06- en 2006/07-seisoene. Plantdatums is versprei vanaf middel November tot einde Desember om 'n verskeidenheid van weerstoestande te akkommodeer tydens patogeen-inokulasie. Die persele is met blom asook twee weke na blom geïnokuleer met Sclerotinia sclerotiorum. Gedurende 2005/06 en 2006/07 is die tweede inokulumtoediening gedoen met 'n suspensie van gemaalde aartappel-dekstrose agar (ADA) kulture en water. Die rangorde in terme van siektevoorkoms van die cultivars het nie gekorrelleer oor plantdatums, seisoene of lokaliteite nie en uiteenlopende reaksies van die cultivars op die patogeen onder verskillende omgewingstoestande is waargeneem. Nie-lineêre regressie is gebruik om die verwantskap tussen Sclerotinia stam-vrotpotensiaal met inokulasiedatums en waargenome siektevoorkoms in die cultivars te bepaal. Cultivarreaksie kon in drie kategorieë geklassifiseer word, nl. dié wat lineêr verwant was aan siektepotensiaal, dié wat hoogs vatbaar was selfs by lae siektepotensiale en dié wat wisselende vlakke van weerstand getoon het, ongeag stygende siektepotensiaal.
5.12
Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir Sclerotinia stamvrot van sojabone
Prof NW McLaren en Me C Botha
- Die doel van die studie was om verskeie inokulasie metodes te evalueer in die glashuis; om optimale omstandighede vir infeksie in die glashuis en onder veldtoestande vas te stel; om huidige kommersiele cultivars vir weerstand teen sclerotinia stamvrot te evalueer onder veldtoestande en in die glashuis; om 'n ekonomies bekostigbare en effektiewe beheer metode te ontwikkel (biologies en chemies) en om die isolaat variasie en patogenisiteit van verskeie S. sclerotiorum isolate vanaf plaaslike produksiegebiede vas te stel.
- Glashuis evaluasies van ses verskillende inokulasie metodes op vier sojaboon cultivars is gedoen. Die blaarskade en voorkoms van verwelking is vasgestel op 'n 0-5 skaal. Siektevoorkoms het daarop gedui dat die verskeie metodes verskil en 'n spuit meselium metode was die mees effektiefste en duidelike verskille tussen cultivars is gevind. Daar is gevind dat cultivars verskillend reageer teenoor die verskillende inokulasie metodes wat gebruik is, veral waar besering van die plantweefsel teenwoordig is.
- Temperatuur en blaaroppervlakte en vogstudies is in die glashuis gedoen. Die optimale temperatuur vir die ontwikkeling van Sclerotinia stamvrot is vasgestel as 20.90ºC en 22.75ºC. Hoë humiditeit of vog is noodsaaklik vir siekte ontwikkeling en die siekte het toegeneem in beide die glashuis en die veld soos die relatiewe humiditeit (RH) verhoog het. Veld evaluasie het getoon dat die optimum temperatuur en RH bereken was by 22.75ºC en 95.37% onderskeidelik. Veelvoudige regressieanalises het getoon dat hierdie die enigste veranderlikes was wat met siekte ontwikkeling gepaard gegaan het.
- Veldproewe het getoon dat cultivars verskillend reageer teenoor veranderende omgewingstoestande en siektepotensiaal. 'n Hoë vlak van genotipe x omgewing interaksie is opgemerk. Die meerderheid van die cultivars was vatbaar vir die siekte selfs onder minder optimale toestande. 'n Regressie metode is toegepas om die gedragspatroon van cultivars onder veranderende siekte toestande te kwantifiseer.
Verskille in siekte voorkoms van cultivars is gevind maar die gewenste vlak van weerstand ontbreek steeds en plaas weereens die fokus op die ontwikkeling van weerstandbiedende cultivars (McLaren, N.W. & Craven, M. (2008): Evaluation of soybean cultivars for resistance to sclerotinia stalk rot in South Africa. Crop Protection 27:131-135). - Verskeie chemiese- en- biologiese beheermetodes is kommersieël beskikbaar, maar effektiewe beheer van Sclerotinia stamvrot hierdeur ontbreek steeds. Laboratorium resultate het getoon dat die chemiese middels toegedien teen die gespesifiseerde dosis nie die fungus effektief kon beheer nie teenoor die dubbel dosis wat regdeur die evaluasie effektief was. Biologiese beheer agente het die vermoë en potensiaal om S. sclerotiorum te beheer maar verdere navorsing is nodig om die effektiwiteit te verhoog. Benomyl en Sumisclex was die mees effektiefste agente gedurende die studie in die laboratorium en die glashuis. Siekte onderdrukking het verskil tussen behandelings.
5.13
Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal
Mnr C Havenga
Die Super-sojakompetisie in KwaZulu-Natal is nou in sy agtiende jaar en belangstelling in die kompetisie is nog steeds baie goed.
Hierdie kompetisie is 'n voorligtingsaksie om die verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal (KZN) te bevorder. Belangstelling asook die kundigheid in sojaboonverbouing het oor die afgelope 18 jaar betekenisvol verbeter. Die hoeveelheid sojabone wat jaarliks aangeplant word, word tot 'n groot mate deur die mielie-sojaboon prysverhouding beïnvloed.
Winterton en Bergville val nog onder die Suidelike KwaZulu-Natal (S-KZN) streek. S-KZN het vanjaar 15 inskrywings en N-KZN 31 inskrywings gehad.
pbrengste is vanjaar aansienlik laer as die van die afgelope drie seisoene, hoofsaaklik as gevolg van droogte toestande gedurende die laaste helfte van die seisoen.
In S-KZN – kompetisie het die opbrengste tussen 1.07 en 4.87 ton/ha gewissel met 'n gemiddelde opbrengs van 3.01 ton/ha wat heelwat swakker as die vorige seisoen se 4.23 ton/ha is. Agt lande (53%) was onder besproeiing met 'n gemiddelde opbrengs van 3.29 ton/ha wat tussen 1.83 en 4.87 ton/ha gewissel het.
Die gemiddelde opbrengs in N-KZN – kompetisie was 2.62 ton/ha en het tussen 1.39 en 4.16 ton/ha gewissel. Die gemiddelde opbrengs onder besproeiing was 3.73 ton/ha. Hierdie seisoen se opbrengste is ook betekenisvol laer as die vorige seisoen sin, maar vergelyk nog goed met die langtermyn gemiddeld van 2.71 ton/ha.
Proteïeninhoud van S-KZN se oes was goed tot baie goed. Die gemiddelde proteïeninhoud was 39.73% (vogvry) en het tussen 36.11% en 43.34% (vogvry) gewissel.
In N-KZN was die proteïeninhoud bevredigend tot baie goed met 'n gemiddeld van 38.83% (vogvry) wat laer as die vorige seisoen se 42.1% is. Die proteïeninhoud het tussen 35.64% en 43.35% (vogvry) gewissel.
S-KZN se olie-inhoud op 'n vogvry basis het tussen 17.92% en 23.15% gewissel met 'n gemiddelde ontleding van 21.32% wat heelwat beter as die vorige seisoen is. Daar was nie 'n noemenswaardige verskil tussen die gemiddelde olie % van sojabone onder besproeiing (21.26% en sojabone onder droëlandverbouing (21.39%) nie.
Die gemiddelde olie-inhoud van N-KZN se sojabone was 20.53% (vogvry) en het tussen 18.31% en 22.66% gewissel.
Hierdie kompetisie skep 'n geleentheid om produksie praktyke te boekstaaf, te evalueer en sodoende produksie probleme te identifiseer wat verder kan lei tot navorsingsprojekte om dit op te los.
5.14
Evaluering van canola cultivars onder besproeiing
Dr AA Nel
Om canola winsgewend te kan produseer, is dit noodsaaklik dat alle produksie-insette optimaal is. In terme van cultivars is dit die aanplant van een of meer wat by die spesifieke omgewing aangepas is. Daar is egter slegs beperkte inligting oor die prestasie van cultivars tans beskikbaar.
Nuwe cultivars verskyn ook jaarliks op die mark, wat 'n behoefte vir deurlopende cultivarevaluasie noodsaak. Die doel van hierdie projek is daarom om die beskikbare kommersiële cultivars vir opbrengs en graansamestelling jaarliks op minstens vyf lokaliteite te evalueer. Gedurende die 2006-seisoen is 17 cultivars vir evaluasie by sewe lokaliteitplantdatumkombinasies geplant. Vyf proewe was suksesvol. Beide maksimum- en minimumtemperature was betreklik gunstig. Vroeë aanplantings het besonder geil gegroei en omval het algemeen voorgekom. Opbrengste van cultivars het van 0.9 tot so hoog as 5.4 t ha-1 oor lokaliteite gevarieer. Die algehele gemiddelde opbrengs oor al die lokaliteite en plantdatums was 3.2 t ha-1. Die vogvrye olie-inhoud het van 34% tot 42% gevarieer, met 'n algehele gemiddeld van 38%. Die proteïeninhoud het van 23% tot 28% gevarieer, met 'n algehele gemiddeld van 26%.
5.15
Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing
Dr AA Nel en Mnr NA Nkosi
Die veevoerbedryf in Suid-Afrika het gedurende 2007/08 meer as 1 263 628 ton oliekoek ingevoer om aan die binnelandse vraag na proteïen te voorsien. Uitbreiding van die plaaslike canolaproduksie kan dié afhanklikheid van invoere verlig en terselfdertyd kan canola ook as 'n nuttige wisselbougewas in siektegeteisterde gewasstelsels onder besproeiing dien. Bemesting is tans die grootste enkele koste-item in droëland canolaproduksie in Suid-Afrika. Wetenskaplikbepaalde riglyne vir N-bemesting van canola bestaan nog nie in Suid-Afrika nie en riglyne van elders stem nie ooreen nie. Die doel van die projek was om riglyne vir N-bemesting vir canola onder besproeiing daar te stel. Veldproewe is gedurende die winters van 2004 tot 2006 geplant op 'n sandgrond by Vaalharts en op 'n leemgrond te Potchefstroom. Ses stikstof-bemestingspeile wat van nul tot 300 kg N ha-1 gewissel het, is gebruik. Tydens die vegetatiewe tot beginblomstadium is in 2004 en 2005 drie en in 2006 vier keer monsters geneem vir bepaling van die biomassa en stikstofinhoud ten einde 'n stikstofverdunningskromme wat vir raapsaad in Europa daargestel is te evalueer. Die proewe is op die aangewese stadiums geoes, die opbrengste bepaal en graan van beide lokaliteite is vir olie- en proteïeninhoud ontleed. Die N-inhouddata het die kromme wat vir winterolie-raapsaad in Europa bepaal is, bevestig en dit kan dus ook vir die bepaling van 'n vroeë N-gebrek by canola gebruik word. Die berekende optimum opbrengste en ooreenstemmende N-peile het groot variasie oor seisoene en lokaliteite getoon. Alhoewel wisselend, is 'n algemene N-bemestingsriglyn wat vir canola onder besproeiing aanbeveel kan word, 204 kg ha-1 waar 'n opbrengsmikpunt nie tersprake is nie. Deltaopbrengs, waar die grond se stikstoflewerings-vermoë en opbrengspotensiaal in ag geneem word, toon potensiaal as 'n betroubare maatstaf vir die bepaling van stikstofbemestingsbehoeftes. Die N-bemestingspeil, uitgedruk in kg ha-1 kan vir besproeiing én droëlandverbouing bereken word volgens die formule N-bemestingspeil (kg ha-1) = D0.687 waar D die deltaopbrengs in kg ha-1 is. Die saad se olie-inhoud is beïnvloed deur cultivars in twee seisoene, deur 'n relatief klein N-bemesting x lokaliteitinte-raksie in 2004 en deur 'n lokaliteit x cultivar interaksie in 2005. Proteïeninhoud is deur al die faktore en interaksies behalwe 'n N-bemesting x cultivar interaksie, in een of meer seisoene, beïnvloed. In gevalle waar proteïeninhoud beïnvloed is, het dit 'n verhoging na gelang van verhoogde N-bemestingspeile getoon. Die inkonsekwentheid van behandelingseffekte oor seisoene toon dat die saad se olie- en proteïeninhoud deur 'n kompleks van faktore bepaal word.
5.16
Evaluering van wisselbou met canola onder besproeiing
Dr AA Nel
Canola is 'n gesogte oliesaadgewas in die veevoerbedryf weens sy lae vesel- en hoë proteïeninhoud. Enige uitbreiding van canolaproduksie sal die binnelandse afhanklikheid van proteïeninvoer verminder. As deel van die Brassicafamilie van plante wat nie 'n goeie gasheer vir meeste graangewassiektes is nie, het canola die potensiaal om as wisselbougewas die volhoubaarheid van graangewasstelsels onder besproeiing te bevorder. Die doel van hierdie ondersoek is om 1) die invloed van canola op die opbrengs van opvolggewasse te ondersoek, asook die invloed van die wisselgewasse op die opbrengs van canola in een- en twee-jaar rotasie stelsels, 2) die invloed van canola op die aalwurmpopulasie te bepaal, 3) die invloed van die verskillende voorafgaande gewasse op die voorkoms en intensiteit van siektes op al die gewasse te bepaal en om 4) aan die einde van die ondersoek die winsgewendheid van die verskillende wisselboustelsels te vergelyk. Resultate van vier somer- en drie winterseisoene is as volg: Wisselbou het 'n betekenisvolle invloed op die opbrengs van mielies getoon (gemiddelde opbrengs 10 102 kg ha-1). Die opbrengs van mielies in die eenjarige canola-mieliestelsel was 18% laer en dié van mielies na canola in die canola-mielies-koring-mieliestelsel, 12% laer as die opbrengs van mielies in die canola-grondboon-koring-mieliestelsel. Die opbrengs van mielies in die eenjarige koringmieliestelsel was 9% laer as dié van mielies in die twee-jaarstelsels waar beide canola en grondbone ook deel van die wisselboustelsel was. Grondboonopbrengste (gemiddeld 3 991 kg ha-1) is ook deur wisselbou beïnvloed. Soos by mielies, was die opbrengs van grondbone die hoogste in die mees gewas-diverse tweejaarstelsel. Die opbrengs van grondbone na canola was 14% laer as dié van grondbone na koring en 9% laer as dié van grondbone na gars. Canola-opbrengste wat van 872 tot 3 142 kg ha-1 gevarieer het en is deur die voorafgaande gewas beïnvloed. Die opbrengsrangorde van die canola volgens die voorafgaande gewas het egter van seisoen tot seisoen verander. Garsopbrengs is nie deur stelsels beïnvloed nie (gemiddelde opbrengs 6 487 kg ha-1). Koringopbrengs (gemiddeld 5962 kg ha-1) is deur die gewasstelsel beïnvloed. Die opbrengsrangorde van die koring volgens gewasstelsels het gevolglik van seisoen tot seisoen verander. Oor seisoene is die aalwurm-bevolking in die grond deur wisselbou beïnvloed maar die redes vir die wisselvalligheid van getalle in die wortels is onduidelik. Verskille in aalwurmgetalle tussen die verskillende veranderlikes was egter laag. Mielie-streepsiekte het gedurende een seisoen voorgekom en enkele koringplante het wortelvrotsimptome in 'n tweede seisoen getoon. Geen siekte is op enige van die ander gewasse waargeneem nie.
5.17a
Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – canola
Mnr PJA Lombard
Die doel van die projek is die evaluering van canolacultivars om die bes aangepaste cultivar vir spesifieke areas te bepaal met die hoogste potensiële olieinhoud. Dit het tweedens ten doel om canola as wisselbou- en proteïengewas te bemark. Volgens beraming is daar ongeveer 32000 ha canola gedurende die 2007 seisoen in die Wes- en Suid-Kaap aangeplant.
Klimaatstoestande tydens die 2007 seisoen was gekenmerk deur goeie reënval in die Swartland. Dele het tydens die begin van Junie buitengewoon baie reën ontvang. Gevolglik het 3 proewe versuip nl Grasrug (Malmesbury), Voëlvlei (Piketberg) en Poskantoor (Porterville). In die Suid-Kaap het redelike goeie vog voorgekom en al die proewe met die uitsondering van Mosselbaai (wortelsiektes) en Swellendam (ruitrugmot skade aan peule) is geoes.
In die Suid-Kaap het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 1.5 ton/ha by Tygerhoek (laat saaidatum) tot 2.36 ton/ha by Riversdal. Daar was 'n 12% verskil in opbrengs tussen die vroeë (30 April) en laat saaidatum (25 Mei) by Tygerhoek. Dit is kleiner as in vorige jare en kan toegeskryf word aan onder gemiddelde temperature. Die gemiddelde opbrengs van "Clearfield (CI)" en Triasien tolerante (TT) cultivars was onderskeidelik 10% en 15% laer as die gemiddelde van die konvensionele cultivars. Muster, Hyola 61 en Opal was gemiddeld die beste produseerders en het almal meer as 2.1 ton/ha saad geproduseer. In die Suid-Kaap was daar dus min verskil tussen die beste 8 cultivars. Groter verskille het by die TT-cultivars voorgekom met Thunder (1.97 ton/ha) as die top produseerder in sy groep. Twee Cl-cultivars was bo-aan die Cl-lys naamlik die baster 45Y77 (1.95 ton/ha) en 44C73 (1.92 ton/ha).
In die Swartland het die gemiddelde opbrengste per proef gewissel tussen 2.04 ton/ha (Langgewens 2) tot 2.91kg/ha by Darling. Die eerste aanplanting by Langgewens 1 (8 Mei) was 18% beter as die tweede aanplanting. Die opbrengsresultate in die Swartland korreleer baie goed met die vegetatiewe groei. Die koeler weer het die plante toegelaat om hul potensiaal te bereik. Die Cl-cultivars het gemiddeld net 1% swakker gevaar as die konvensionele cultivars. Die "Clearfield" cultivar 45Y77 (baster) was die tweede beste cultivar in die Swartland (2006 en 2007) en het die gemiddelde van die Cl groep baie bevoordeel. Die TT-cultivars se produksie was onderskeidelik 30% en 29% swakker as die konvensionele en Cl-groepe.
In die Swartland was die baster 44Y06 (3.15 ton/ha) by 3 van die 4 lokaliteite in die Swartland die top produseerder. Die cultivar in die tweede plek was die "Clearfield" baster 45Y77 (3.07 ton/ha). Hulle is gevolg deur 3 cultivars wat almal bo 2.8 ton/ha geproduseer het naamlik, Opal, 44C11 en Jade.
Die groot verskil tussen vroeg en later saai by Langgewens is 'n verskynsel wat jaarliks voorkom. Dit onderstreep die feit dat laat plant 'n groot risiko inhou. Die konvensionele cultivars gee gemiddeld die hoogste opbrengs, maar het minder opsies vir die beheer van onkruid. In 2006 en 2007 is vir die eerste keer 'n cultivar in die "Clearfield" groep aangeplant wat kompeteer met konvensionele cultivars.
5.17b
Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – lupiene
Mnr PJA Lombard
Die doel van die projek is die evaluering van Lupien cultivars om die bes aangepaste cultivar vir spesifieke areas te bepaal. Dit het tweedens ten doel om lupiene as wisselbou- en proteïengewas te bemark. Volgens beraming is daar ongeveer 14 000 ha soetlupiene gedurende die 2007 seisoen in die Wes- en Suid-Kaap aangeplant.
Klimaatstoestande tydens die 2007 seisoen was gekenmerk deur goeie reënval in die Swartland. Dele het tydens die begin van Junie buitengewoon baie reën ontvang. Gevolglik het die tweede saaityd by Langgewens versuip. In die Suid-Kaap het redelike goeie vog voorgekom en al die proewe met die uitsondering van Mosselbaai (bosbok skade) is geoes.
Tien lyne met die potensiaal om as moontlike cultivars geregistreer te word is die afgelope seisoen in die cultivarproewe geëvalueer. Die saad opbrengs in die Swartland het gewissel van 1.6 ton/ha (Eendekuil) tot 2.84 ton/ha (Philadelphia). Die tweede aanplanting by Langgewens moes ongelukkig afgeskryf word weens versuiptoestande en wortelsiektes. Bruinblaarvlek het by Hopefield soos in 2006 voorgekom en veral CED 6150 en HE16 sodanig geïnfekteer dat geen opbrengs van die cultivars verkry is nie. Die 3 lyne wat die beste gevaar het was 42 (2.65 ton/ha), 35 (2.49 ton/ha) en 36 met 2.45 ton/ha. Mandelup (2.39 ton/ha) was soos in 2006 die beste cultivar gevolg deur Quilinock (2.14 ton/ha) en Tanjil (1.94 ton/ha). Slegs 2 van die lyne het 'n laer gemiddelde opbrengs as Tanjil gehad. Weens skade (ystervarke) op Eendekuil aan die cultivars CED 6150 en HE 16 kon hul data nie ingesluit word nie.
Op Tygerhoek het die tweede proef (saaityd 25 Mei, 1.78 ton/ha) gemiddeld oor die twee honderd kilogram per ha meer as die eerste aanplanting (30 April, 1.57 ton/ha) geproduseer. In die Suid-Kaap was die smalblaar cultivar Mandelup (2.36 ton/ha) gemiddeld die beste cultivar. Quilinock (1.96 ton/ha) was soos in 2006 die tweede smalblaar cultivar gevolg deur Tanjil (1.78 ton/ha). Sewe lyne het egter beter gevaar as die tweede beste smalblaar cultivar, Quilinock. Die lyne 24 (2.23 ton/ha) en 25 (2.15 ton/ha) was tweede en derde na Mandelup.
Verskeie lyne toon dus potensiaal. Die beste lyne in die Swartland (42, 35 en 36) en in die Suid-Kaap (24, 25 en 16) was nie dieselde lyne nie. Hierdie lyne sal vir die volgende jaar nog geëvalueer word om die bestes te identifiseer as moontlike cultivars.
5.18
'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap
Dr MB Hardy
Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyneffekte te bepaal vir agt van die mees toepaslike gewasse en gewas / weiding wisselboustelsels met betrekking tot: gewasopbrengs; onkruidbeheer; siekteonderdrukking; grondproduksiepotensiaal; skaapproduksie en ekonomies volhoubare grondgebruik in die Swartland.
Geen betekenisvolle reënval is gedurende Februarie en Maart aangeteken nie. Die eerste betekenisvolle reënval het op die 26ste April geval (25.6mm).
'n Totaal van 333mm betreklik volgehoue reënval is gedurende die tydperk April tot die middel van Oktober aangeteken. Beskikbaarheid van vog was dus hoog vir die grootste gedeelte van die groeiseisoen en die warm droë periodes wat bale keer voorkom het nie plaasgevind nie. Gemiddelde maksimum daaglikse temperature het gewissel tussen 11 en 21ºC vir die grootste gedeelte van die groeiseisoen. Uitstekende koringopbrengste en gemiddelde canola- en Iupienopbrengste is vir die seisoen verkry. Die gemiddelde opbrengs van die lupiene was beduidend hoër as die van canola.
Canola- en lupienproduksie
Die TT-canolacultivar ATR Stubby is geplant om die kanse te verhoog op die beheer van onkruiddoderweerstandbiedende raaigras op die proefpersele. Canola en lupiene (Tanjil) is op die 1ste en die 8ste Mei onderskeidelik geplant. Saailingdigthede vir canola en lupiene (54 en 51 saailinge m²) was hoër as verwag, wat dui op 'n beter saailingoorlewing as wat vooruitgeskat is. Die bestuursprotokol soos ontwikkel deur die Tegniese komitee is gevolg, maar aangepas gedurende die seisoen soos vereis deur die wisselende klimaatstoestande. Gunstige klimaatstoestande het hoër opbrengspotensiaal tot gevolg gehad.
Canola en lupiene is aan die einde van Oktober geoes. Soos in die vorige seisoene, was canolarypwording en "gereedheid" vir oes uiters veranderlik en ongelyk. Elke canolakamp is dus ook voor oes gemonster ten einde skattings van opbrengspotensiaal daar te stel.
Canola opbrengste verkry gedurende oes ("direk"), het gewissel van 628 kg/ha tot 1582 kg/ha met 'n gemiddelde opbrengs vir canola van 1103 kg/ha. Daar was betekenisvolle verskille tussen die gemiddelde opbrengste, geskatte opbrengspotensiaal en werklike opbrengs. Die gemiddelde verskil in saad verlies van 38% is waargeneem oor alle persele en die gemiddelde (geskatte) opbrengspotentiaal was 1780 kg/ha. Gegewe dat die gemiddelde opbrengs van koring in al die koringpersele 4396 kg/ha was, was die canolaopbrengs laag, naamlik 25.1% van die koringopbrengs. 'n Interessante feit is dat die geskatte obrengste toon dat canola wat medicweiding in die siklus opvolg, 'n hoër produksie het as canola wat koring of lupiene opvolg. ATR Stubby het groot verliese in opbrengs getoon te wyte aan swartstam omval, wat die oesproses bemoeilik het.
Gemiddelde Iupienopbrengs in al die persele was 1320 kg/ha. Daar was geen verskille in die opbrengs tussen persele of gewasopeenvolgings nie, wat 'n soortgelyke Iupienopbrengs vir die verskillende stelsels aandui.
Gemiddelde ruproteïeninhoud van Iupiensaad was 28.5%, wat gewissel het van 27.4 tot 29.1%.
Ekonomie
Alle data, soos vereis om inkomste en uitgawebegrotings vir elk van die 48 kampe te bereken, sal met die finansiële pakket wat deur die Departement van Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel word, bereken word sodra die program beskikbaar is.
Algemeen
Die canolacultivar ATR-Stubby sal vervang moet word, aangesien die skielike hoë voorkoms van swartstam op die canola die opbrengs en dus die prestasie van canola opvallend benadeel het.
5.19
Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap
Dr MB Hardy
Die doel van hierdie studie is die bepaling van die kort- en langtermyn effek op 'n aantal van die mees lewensvatbare kort-, lang- en gewas / weiding wisselboustelsels op gewasopbrengs, onkruidbeheer, siekte onderdrukking, grond produksie potensiaal, skaapproduksie en die ekonomiese volhoubaarheid van grondgebruik in die Suid-Kaap.
Die jaar 2007 was die 6de jaar van produksie. Die proef behels twee hoofkomponente naamlik: kortrotasiestelsels wat op Tygerhoekproefplaas naby Riviersonderend getoets word en langrotasiestelsels wat op plase in die Riversdal- en Swellendamdistrikte onderskeidelik getoets word. Let net op dat 2007 die 1ste jaar van die 2de 5 jaar siklus van wisselbou is op die Riversdal en Swellendam lokaliteite.
Al drie die proef lokaliteite is suksesvol gevestig en bestuur volgens die beplande protokol. Koring was die enigste gewas wat gevestig is op Swellendam en op Riversdal is koring en canola gevestig. Die redes hiervoor is vervat in proef protokol.
Die laat somer en vroeë herfs reën (voor plant) was baie gunstig by al drie lokaliteite met die gevolg dat die vog vlakke van die grond baie voordelig was. Die daaglikse maksimum temperature was ook baie gunstig vir produksie. Hierdie voordelige omstandighede het bykans die hele groeiseisoen voorgekom. Swellendam het egter 'n droë periode tussen Augustus en Oktober ondervind, met die gevolg dat daar 'n dramatiese afname in die opbrengs was in vergelyking met die mid-seisoen potensiaal.
Canola produksie
Op Riversdal is canola (Comet) ingesluit as die eerste gewas wat volg op lusern in twee van die gewas volgordes wat getoets word. Dit maak dit moontlik om twee keer (jaar 1 en jaar 5) canola te oes binne die 5 jaar kontant gewas fase voordat lusern weer hervestig word. Die saaidigtheid was 3 kg/ha en elke perseel het 39 kg N/ha as bemesting ontvang: 15 kg N/ha met plant en 24 kg N/ha as topbemesting.
Op Tygerhoek is die cultivar ATR Stubby geplant op 7 Mei 2007 teen 'n saaidigtheid van 3.8 kg/ha. Die gewas het ook bemesting soos volg met plant ontvang: 20 kg N/ha, 15 kg P/ha en 10 kg S/ha. Simazol was ook met plant toegedien onder gunstige grondvog toestande. Slegs een topbemesting is toegedien gedurende die seisoen. Onkruid- en plaagbeheer is toegedien by beide lokaliteite soos benodig.
Canola opbrengs op Riversdal was uitstekend en het gewissel tussen 2000 kg/ha en 2500 kg/ha. Dit wys duidelik op die potensiële voordeel daaraan verbonde om canola in die eerste jaar na lusern te plant in die Riversdal vlakte gebied.
Die gemiddelde canola opbrengs oor alle persele op Tygerhoek was 1466 kg/ha. Hierdie opbrengs is aanvaarbaar in vergeleke met die opbrengs-verwagting van die streek. Interessant was dat die gemiddelde opbrengs van canola na 'n peulgewasweiding (1724 kg/ha) sowat 500 kg/ha meer was as die gemiddelde opbrengs na kontant gewasse (1208 kg/ha).
Die gemiddelde olie inhoud van die saad (soos bepaal deur die SSK fasiliteit op Swellendam) was onderskeidelik 43.5% en 37.5% vir Riversdal en Tygerhoek.
Lupienproduksie
Lupiene was nie op die Riversdal of Swellendam persele geplant nie. Op Tygerhoek is die cultivar Tanjil geplant. Lupien opbrengs was baie hoër as in 2006. Die gewas het goed ontwikkel gedurende die seisoen en dit het geblyk dat daar genoegsame vertakkings en blomme per tak voorgekom het. Die gemiddelde opbrengs oor al 4 persele was 1901 kg/ha. Die %RP (gemid = 28.5%) het nie gewissel tussen persele nie, wat dui daarop dat die gewasvolgorde in die vorige seisoen nie 'n effek gehad het op hierdie parameter nie.
Ekonomie
Alle data, soos vereis om inkomste en uitgawebegrotings vir elke perseel van elke lokaliteit te bereken, sal met die finansiële pakket wat deur die Departement van Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel word, bereken word sodra die program in middel 2008 beskikbaar is.
5.20a
Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerdery-stelsel in die droëland saaigebied van die Swartland, deur middel van 'n produsente-kompetisie
Mnr IFV Slabbert
Vier boere in die Moorreesburg, vier boere in die Piketberg / Porterville en vyf boere in die Malmesbury / Durbanville gebiede het ingeskryf.
Die afname in die gereelde deelnemers van die kompetisie in die Moorreesburg en Piketberg / Porterville gebiede is as gevolg van die lae Canolaprys tot Koringprys. Canolaverbouing in hierdie gebiede is ook meer riskant en die deelnemers wat nie meer Canola wil saai beweer die Canola-opbrengste is nie goed genoeg nie.
Gedurende April het dit maar min gereën, behalwe in die Rooikaroo noord van Piketberg waar vroeë donderbuie uitgesak het. Daar het dus van die produsente in hierdie gebied vroeg begin plant.
Dit het egter goed gedurende Mei gereën en die res van die boere het al hulle Canola en koring gesaai. Die gesaaide Canola was nooit onder vogstres vanaf saai. Daar kon egter eerder versuip toestande voorkom.
5.20b
Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerdery-stelsel in die droëland saaigebied van die Suid-Kaap, deur middel van 'n produsente-kompetisie
Mnr C van Rooyen
Die kompetisie het vanjaar 22 deelnemers gehad. Die probleme met isopoda het egter 'n paar laat uitval. Die produsente wat jaarliks deur isopoda geteister word is moedeloos en soek antwoorde. Die koolsnuitkewer in die canola maar veral op die Crambe aanplantings word verder ondersoek deur die Departement Landbou Wes-Kaap. Die swak weer tydens oes het produsente 'n ander voordeel van canola gewys toe canola in die klam oggende geoes kon word terwyl die ander grane se vog te hoog was. Opbrengste van die beste derde deelnemers het vanjaar weer die hoogte punt van 2003, 1.9 ton/ha bereik. Die goeie prys van canola teenoor veral gars sal 'n uitbreiding van oppervlakte tot gevolg hê in 2008. Die beter cultivars wat nou vinniger in die handel kom mag die terughou van saad verminder. Die marges wat canola vanjaar behaal het maak dit 'n wesentlike deel van enige wisselboustelsel.
5.21
N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
Prof GA Agenbag
Veldeksperimente wat gedurende die periode 2005 tot 2007 op Langgewens- Elsenburg-, Welgevallen- en Roodebloem Proefplase met toenemende N-peile (0 tot 120 kg N ha-1) gedoen is, toon dat die reaksie van canola teenoor N bemesting grootliks verskil oor jare en lokaliteite as gevolg van verskille in klimaatstoestande, opbrengspotensiale, N-lewering deur die grond en loging. Hoewel opbrengste op verskeie lokaliteite betekenisvol verhoog is deur toenemende N-peile, het optimum toedieningspeile grootliks verskil en was die agronomiese effektiwiteit van die toedienings by maksimum opbrengste dikwels minder as 4 kg opbrengsverhoging vir elke kg N toegedien. Plantontledings wat op Langgewens en Roodebloem op 90 dae na plant gedoen is, toon uitermate hoë Na-inhoude op beide lokaliteite. Hierdie bepalings sal egter op meer lokaliteite en jare uitgevoer moet word om te bepaal of die Na-inhoud enige nadelige invloed op opbrengs en kwaliteit het. Grondchemiese ontledings wat met planttyd uitgevoer is, toon baie lae inhoude van Boor en Swael op beide lokaliteite. Aangesien beide elemente baie belangrike voedingstowwe vir die suksesvolle produksie van canola is, sal die effek van bemesting met hierdie elemente in verskillende produksie gebiede verder nagevors moet word.
5.22
Soutverdraagsaamheid van canola
Prof GA Agenbag
Navorsing wat gedurende 2007 gedoen is het gefokus op die reaksie van verskillende canola cultivars teenoor toenemende soutkonsentrasies in potproewe en onder veldtoestande. Potproewe wat met 12 verskillende cultivars uitgevoer is, het getoon dat die ontkieming en opkom van die meeste cultivars benadeel is deur 'n EC van 8 dS m-1, maar dat die groei van oorlewende saailinge nie benadeel is. Hoewel die finale ontkieming en persentasie opkom van die cultivars Spectrum, Tornado en Hyola 61 nie betekenisvol verlaag is deur 'n toename in EC van 0 tot 8 dS m-1, is die tempo van groei van Spectrum gedurende die saailing stadium, in teenstelling met Tornado en Hyola 61, nie benadeel nie. Aangesien die reaksie teenoor verskillende soutkonsentrasies mag verskil tussen verskillende groeistadiums, beteken dit egter nie noodwendig dat Spectrum 'n hoër graanopbrengs onder sodanige toestande sal lewer nie. Cultivar proewe wat deur die Departement Landbou WesKaap uitgevoer is, het egter getoon dat Spectrum baie goed presteer op lokaliteite met 'n hoë grond EC (lae weerstand). Meer navorsing is egter nodig alvorens finale gevolgtrekkings rakende die reaksie van Spectrum en canola in die algemeen teenoor braktoestande gemaak kan word.
5.23
Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie
Dr SC Lamprecht
Rhizoctonia anastomose groepe (AGs) wat met canola en lupien in wisselboustelsels in die suidelike en westelike produksie areas in die Wes-Kaap provinsie van Suid-Afrika geassosieër word, is gedurende 2007 herwin en geïdentifiseer deur die basispaarvolgorde bepaling van die rDNA te gebruik. Vier wisselbouproewe is in die studie ingesluit, met twee elk by die Tygerhoek (Suid-Kaap, Riviersonderend) en Langgewens (Wes-Kaap, Moorreesburg) proefplase. Vier bewerkingspraktyke "zero" (Planter plaas saad met bykans geen grondversteuring), geen (Gebruik 'n pen-planter wat grond versteur slegs tot diepte van 100mm), minimum (Werk grond met 'n "scarifyer" tot maksimum van 150mm en plant met pen-planter) en konvensionele bewerking (Dis en/of ploeg tot 200mm en plant met 'n penplanter) is ook in een van die proewe by elk van die twee lokaliteite, ingesluit. Canola aangeplant na gars, medic/klawer mengsel en koring, en lupien aangeplant na gars en koring is tydens die saailing-, middelseisoenen saadpeul-groeistadiums versamel. 'n Totaal van 298 isolate waarvan 72.8% binukleêre en 27.2% multinukleêre Rhizoctonia isolate was, is verkry. Die mees algemene binukleêre AG was AG-I (30.9%), gevolg deur AG-K (23.8%), AG-A (10.7%) en AG-Bo (7.4%). Die mees algemene multinukleêre AG was AG-2-1 (15.4%) gevolg deur AG-2-2 (7.7%) en AG-11 (4.0%). Al die AGs is vanaf beide Langgewens en Tygerhoek verkry. Wisselbou het die voorkoms van die indiwiduele AGs sowel as die binukleêre en multinukleêre Rhizoctonia groep beïnvloed. AG-2-1 is slegs vanaf canola en AG-11 slegs vanaf lupiene geïsoleer. Betekenisvolle hoër voorkomste van die binukleêre groep is op lupiene as canola in proewe 2 en 4 aangeteken, en betekenisvolle hoër voorkomste van die multinukleêre groep op canola as lupiene in dieselfde proewe. Bewerkingspraktyke het nie die voorkoms van Rhizoctonia AGs by Tygerhoek beïnvloed nie, maar by Langgewens is die binukleêre Rhizoctonia groep meer dikwels van plante van die konvensionele bewerkings behandeling en AG-2-1 meer dikwels vanaf die "zero" as die geen bewerking en minimum bewerkings behandeling persele verkry. Voorkoms van Rhizoctonia AGs was in die algemeen hoër aan die begin en einde as gedurende die middelseisoen. Hierdie studie bevestig resultate verkry in 2006 dat belangrike Rhizoctonia AGs soos AG-2-1, 2-2 en 11 voorkom in beide die suidelike en westelike produksie gebiede in die Wes-Kaap provinsie en dat wisselbou die voorkoms van Rhizoctonia AGs beïnvloed.
5.24
Insekte en ander plae van canola
Dr G Tribe
'n Proef, om te bepaal of die verliese aan canola saailinge veroorsaak word deur naakslakke en isopoda, en of dit vermy kan word deur later te plant en slakpille op die korrekte tyd toe te dien, is in vier afsonderlike gebiede in die Caledon distrik uitgevoer. Die proefontwerp was 'n gesplete perseel met twee plantdatums as hoofpersele en vier behandelings nl. kontrole, twee afsonderlike toedienings van slakpille en een toediening van insekdoder. Elke perseel, met vyf melthoid lokvalle, is weekliks gemoniteer vir die aantal organismis onder elke lokval, asook die aantal saailinge in die vier areas (1 x 0.5m) binne elke perseel.
Daar was feitlik 'n volkome verlies aan saailinge in drie van die persele waar saailinge nie opgekom het nie, en hierdie verliese kan aan isopoda voeding by die ontkiemende sade onder die grond, toegeskryf word. Die vierde perseel het 'n verlies van 15-20% van die saailinge getoon as gevolg van slakke, aangesien isopodas weens die uitermate nat grond nie teenwoordig was nie. Alhoewel die 10 permanente melthoid lokvalle in die Roodebloem weiveld 'n 1.5 voudige toename in die getal isopodas en 'n 17 voudige toename in slakke, vergeleke met die vorige jaar, getoon het, kan die verliese aan isopodas toegeskryf word. Slakke is in vier klasse gegroepeer en die meerderheid was in die "klein" en "medium" klasse met relatief min in die "heel klein" klas. Dit dui daarop dat die jonger slakke van die vorige jaar, die droë somer maande tydens November en Desember van 2006 oorleef het. Weens die onreëlmatige reënval wat gedurende 2007 ondervind is, het vroeë en laat aangeplante canola soortgelyke verliese tot gevolg gehad.
Drie slakpil formulasies is getoets en almal was hoogs effektief om slakke aan te lok en te dood. Die karbariel-metaldehied kombinasie het ook 100% van die isopodas en alle ander insekte, insluitende voordelige predatore, gedood. Die slakke is van Mediterreense oorsprong en kan beheer word deur oordeelkundige gebruik van slakpille, maar die tyd en aantal toedienings moet nog akkuraat bepaal word. Daarteenoor is die isopodas inheems en vorm 'n integrale deel van die verrottingstelsel van stoppels in bewaringsboerdery. Die klem moet hier geplaas word op die beskerming van die saad en saailinge vir die 14-dae-periode wanneer hulle kwesbaar is vir aanval. Toekomstige proewe sal op saadbehandelings konsentreer.
Voortgesette ondersoeke na die insekplae van canola toon dat alle plantmonsters geïnfesteer met die plantluis Brevicoryne brassicae, 100% geparasiteer was deur die braconid parasiet Diaretiella rapae. Twee verskillende plantluis spesies was teenwoordig op die alomteenwoordig Europese onkruid Sonchus asper en is nie geparasiteer nie. Dit dui daarop dat S. asper nie die plantluis plaag of die parasiet huisves nie, en is daarom nie 'n voedingsbron van die canola plantluis of die parasiet nie. Vier parasiet spesie van die ruitrugmot is vanaf monsters opgespoor, maar slegs een spesies, Diadegma mollipla, is verantwoordelik vir feitlik al die parasitering. Laasgenoemde is verantwoordelik vir 30% van die geparatiseerde mot larwes deur alle parasiete gekombineer.
Daar was 'n 100% infestasie van die stingels van Crambe deur die kool stamkalander Ceutorhynchus pallidactylus en 'n 68% infestasie by canola stingels. Dit wil dus voorkom asof die kalander 'n enkel generasie per jaar het en dat hulle papies oorsomer in die grond.
'n Nuwe kewer plaag van canola is ontdek, maar het eers aktief geraak nadat meeste canola plante in windrye platgesny was en vir hierdie rede kom dit nie voor as 'n ernstige plaag nie. Alhoewel baie klein, kom hulle in groot getalle voor en het die potensiaal om die bogrondse dele waarop hulle voed, te vernietig. Laasgenoemde is deur Dr Biondi van Italië, deur bemiddeling van die LNR-NIPB se Nasionale Versameling van Insekte, as Phyllotreta mashonana, geïdentifiseer.
5.25
'n Vergelyking van die reaksie van Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes op verskille in dieëtproteïen
Prof RM Gous
Die twee mees algemeen gebruikte braaikuiken-genotipes in Suid-Afrika, naamlik die Cobb en Ross, reageer uiteenlopend op dieëtproteïen. Die belangrike vraag wat hieruit voortspruit, is hoe voere ontwikkel moet word om die twee genotipes se prestasie te optimiseer? Dit is duidelik dat die voer wat een genotipe se prestasie sal optimiseer, waarskynlik nie dieselfde vir die ander genotipe sal doen nie. In opvolging van verlede jaar se studie is die reaksie op 'n reeks dieëtproteïenpeile gemeet. Tydens die huidige proef is egter vier bloedlyne gebruik, wat tot 15 weke ouderdom eerder as slegs ses weke ouderdom uitgegroei is. Weereens is daar, benewens die bepaling van konvensionele produksie-veranderlikes soos gewigstoename en voeromset, ook bepalings gedoen van die gewig van liggaamsdele van monster-groepies braaikuikens wat weekliks geslag is. Liggaamsdele is uiteindelik opgemaal ter voorbereiding vir chemiese analise. Die allometriese verband tussen die gewig van liggaamsdele en liggaamsproteïen van Cobb-, Hybro- en twee Ross-genotipes, wat drie proteïenpeile in die dieët ontvang het, is deur regressie analise bepaal (regressie van liggaamsdele se gewig teen die liggaam se proteïengewig by 'n bepaalde slagtyd).
Soos in die vorige studie het die vier genotipes en twee geslagte bykans dieselfde verwantskappe tussen liggaamsproteïengewig en die spiergewig van die bors, dy, boud en vlerk geopenbaar, wat daarop dui dat die ligaamsamestelling van braaikuikens nie deur genetiese seleksie verander is nie. Dus kan verslae van verskille in borsspier tussen genotipes waarskynlik eerder toegeskryf word aan die feit dat die braaikuikens by verskillende stadiums van volwassenheid of by verskillende grade van liggaamsvet vergelyk is. In ooreenstemming met die vorige proef het lae dieëtproteïenpeile die swaarste liggaamsdele ten gevolg gehad by 'n bepaalde liggaamsproteïengewig, in vergelyking met hoër peile dieëtproteïen. Aangesien die hoeveelheid liggaamsvet wat neergelê word in omgekeerde verband staan tot die dieëtproteïenpeil, kan daar verwag word dat laer proteïenpeile sal lei tot swaarder liggaaamsdele by dieselfde proteïengewig. Gevolglik is 'n verdere proef aan die gang gesit om die tempo van vetneerlegging in elk van die liggaamsdele te bepaal wanneer lae proteïendiëte gevoer word.
Die slotsom van hierdie navorsing is dat verskille in die doeltreffendheid van dieëtproteïenverbruik deur die mees algemeen gebruikte braaikuikengenotipes in Suid Afrika nie aan verskille in die groeitempos van die verskillende liggaamsdele toegeskryf kan word nie.
Genetici van die verskillende teeltmaatskappye het verskillende seleksiekriteria gebruik om prestasie in die onderskeie genotipes te verbeter, en die uitdaging is om hierdie verskille sodanig te beskryf dat simulasiemodelle gebruik kan word om die biologiese en ekonomiese optimum proteïen-inhoud (aminosuur-inhoud) vir elke genotipe se dieët te bepaal.
5.26
Kalibrering van nabye infrarooi spektrometer vir analise van aminosuur analise in veevoer
Dr M Ciacciarello en Prof RM Gous
Akkurate ontleding van aminosure in grondstowwe en voer is noodsaaklik vir die veevoerbedryf. Die mate waartoe 'n veevoer aan die aminosuurbehoeftes van enige plaasdier kan voldoen hang grotendeels af van die samestelling daarvan, wat weer 'n funksie is van die korrekte evaluering van die bestanddele se voedingswaarde. Oor die laaste aantal jare was daar 'n toename in die gebruik van nabye infrarooi spektroskopie (NIRS) om grondstowwe en voere te ontleed. Daarteenoor is kalibrering van hierdie toerusting 'n komplekse proses wat bepalend is vir die akkuraatheid van ontledingsresultate. Hierdie tegnologie het bepaalde voordele teenoor die konvesionele chemiese ontledings, hoofsaaklik weens die (korter) tyd wat nodig is om ontledingsresultate te verkry. Alhoewel die aankoopkoste van hierdie toerusting as 'n nadeel beskou kan word, raak die instrumente met verloop van tyd tog meer bekostigbaar. As die voordele en besparings weens gebruik van hierdie tegnologie voorts in aanmerking geneem word, kan die aanvanklike investering geregverdig word. Ontledingsmonsters van vismeel, mielies, sorghum, volvet soja, soja oliekoek en lupiene (onderskeidelik 118, 106, 217, 152, 112 en 57 in getal) is versamel. Die monsters is ontleed vir die konsentrasies vog, ruproteïen, ruvet, as, bruto energie, skynbaar verteerbare energie (SVE, oftewel "AME"), totale en verteerbare aminosure. Die ontledingsresultate is vervolgens gebruik om die kalibreringskurwes te ontwikkel wat uiteindelik gebruik kan word om die ontleding van aminosuurkonsentrasies in grondstowwe en veevoer te bespoedig, asook om die verteerbaarheid van aminosure te bepaal.
Twintig ontledingsmonsters van elke gronstof is geselekteer om gelyke konsentrasie-intervalle van proteïen te verteenwoordig. In vismeel se geval was die lisien konsentrasiereeks 4.4 – 5.8%, en die proteïeninhoud het tussen 56.9% en 71.0% gewissel. Die mielies se lisieninhoud was tussen 0.21% en 0.42%, en die proteïeninhoud tussen 5.25% en 13.25%. Vir sorghum was die proteïenkonsentrasie tussen 5.76% en 16.67%, terwyl die lisieninkonsentrasies van hierdie grondstof nog afgewag word. Volvet soja se lisienkonsentrasie was tussen 2.24% en 2.68%, terwyl die proteïeninhoud daarvan tussen 36.04% en 41.58% was. Soja oliekoekmonsters het tussen 2.4% en 3.4% lisien bevat, met proteïenkonsentrasies tussen 39.8% en 49.4%. Lupiene se lisienkonsentrasies was tussen 1.53% en 1.84%, en proteïenkonsentrasies tussen 28.1% en 37.6%.
Nadat die grondstofmonsters aanvanklik met konvensionele natchemie ontleed is, is die monsters met 'n FOSS NIR sisteem getoets. Elke monster is twee maal deur die sisteem geskandeer terwyl dit nog op natuurlike vogbasis was, om duplikaat ontledingsresultate te verkry. Vervolgens is die monsters gedroog en elkeen is weer twee maal geskandeer om duplikaat ontledingsresultate op vogvrye basis te verkry. Kalibreringswaardes is toe teen die bekende chemiese ontledingswaardes uitgestip, op natuurlike vog– sowel as vogvrye basis. Kalibreringskurwes wat vanaf die skandering van vogvrye monsters verkry is, het groter akkuraatheid getoon as die vergelykbare kurwes afkomstig van natuurlike vogbasis-skanderings. Baie goeie kalibreringsresultate is verkry vir vismeel (proteïen, lisien, "AME", vet, en as) sowel as vir sorghum. Minder robuuste kalibrerings is in die geval van die ander grondstowwe behaal, maar daar word verwag dat dit sal verbeter namate meer monsters ontleed word. Tans word daar nog gekalibreer aan die verteerbare aminosure en metaboliseerbare energie (ME) van die verskillende proteïenbronne.
5.27
Aminosuur en proteinverbruik van braai broeihoenders op 'n mielie-soja dieët
Dr M Ciacciarello en Prof RM Gous
Dit is moeilik om die hoeveelheid energie voor te skryf wat daagliks aan braaikuiken teelhenne toegewys moet word, aangesien energiebehoeftes wissel na gelang van verandering in eierproduksie en omgewingstemperatuur. Weens die stelsel van gekontroleerde (beperkte) voeding wat toegepas word, het braaikuiken teelhenne nie die geleentheid om voerinname te verhoog namate temperature daal nie, 'n meganisme wat andersins gebruik sou word om stygende energiebehoeftes mee te bevredig. Wanneer die omgewingstemperatuur daal, moet die hoeveelheid voer of energie wat verskaf word aldus aangepas word, wat daarop neerkom dat modelle vir lêhenne op volvoeding nie op braaikuiken teelhenne van toepassing is nie.
'n Eksperiment is ontwerp waarvolgens 288 Cobb teelhenne van 44 weke oud vir 'n periode van 12 weke lank in ses omgewingsbeheerde kabinette gehuisves is. Sodoende kon die uitwerking van temperatuur op die prestasie van braaikuiken teelhenne bestudeer word, terwyl vasgestelde hoeveelhede voedingstowwe (met die uitsondering van energie) daagliks gevoer is. Voorts is daar ondersoek ingestel na die wyse waarop braaikuiken teelhenne die metaboliseerbare energie (ME) in die daaglikse dieet toedeel (kanaliseer) wanneer omgewingstemperatuur daal.
Eierproduksie het liniêr gedaal oor die hele reeks van temperature wat bestudeer is toe die henne voer met onderskeidelik 11.9, 10.5 en 9.7 MJ ME/kg ontvang het, wat daarop dui dat die henne toenemende hoeveelhede dieëtenergie vir onderhoud gebruik het namate temperatuur gedaal het, wat dus minder energie vir produksie oorgelaat het. Daarteenoor het henne wat voer met 12.9 MJ ME/kg (2 000 kJ/d) ontvang het by alle temperature hul prestasie gehandhaaf. Lae temperature het geen uitwerking op die eierproduksie van lêhenne wat ad libitum gevoer word nie, maar wanneer energie-inname beperk word (soos wat die geval was met die braaikuiken teelhenne op die laer energie-toewysings), moet energietoedeling (deur die henne) verander. Die mees waarskynlike scenario is dat die tempo waarteen henne eiers lê verlaag sal word om die hoër energiebehoefte te bevredig.
Dit blyk uit hierdie studie dat braaikuiken teelhenne wat 'n vaste daaglikse toewysing van dieëtenergie ontvang het hul eier-uitset sal verminder wanneer 'n energietekort dreig, wat gepaard gaan met 'n styging in die liggaamsvetreserwes wanneer dieëtproteїen voldoende is, weens die deaminering van proteїen wat nie vir eierproduksie aangewend word nie. Die ekstra energie wat tydens koue vir termogenese benodig word bedra 1.0 kJ ME/kg W. °C, wat by die onderhoudsbehoefte van braaikuiken teelhenne getel moet word vir omgewingstemperature benede ongeveer 18°C.
5.28
Die effek van beligting op die effektiwiteit van verbruik van dieëtproteïen by Cobb en Ross braaihoenders in Suid-Afrika
Prof RM Gous
Die grootmaak van braaikuikens op 6-h ligperiodes, met oordrag na 23 h lig teen 21 dae ouderdom, lei tot laer mortaliteit en minder beenafwykings, sonder dat eindgewig of doeltreffendheid van voeromset nadelig geraak word. Daarteenoor skryf huidige welsynsriglyne vir braaikuikens in baie lande 'n minimum ligperiode van 8 h voor, terwyl daar na alle waarskynlikheid in die toekoms 'n minimum 8 h van ononderbroke donkerte voorgeskryf sal word. In opvolging van die navorsing waaroor verlede jaar verslag gedoen is, is die reaksie gemeet van haantjies van twee braaikuiken genotipes wat blootgestel was aan konstante 8- en 16-h ligperiodes, asook waar daar 'n skielike oorgang was van 8 na 16 h lig by 10, 15 of 20 d ouderdom. Liggaamsgewig, voerinname, en doeltreffendheid van voeromset het op geen stadium tydens die studietydperk van 35 dae betekenisvol tussen behandelings verskil nie. Op 35 dae ouderdom was mortaliteit en die voorkoms van Skielike Vrekte Sindroom (SVS) ook vergelykbaar vir alle beligtingsgroepe.
Nadat hierdie data saamgevoeg is met data van braaikuikenhennetjies waaroor vroeër reeds verslag gedoen is, was groei en doeltreffendheid van voeromset na ouderdom 21 d tot by slag betekenisvol beter vir kuikens wat blootgestel was aan die konstante 8-h lig asook die kuikens waar daar 'n oorgang was van 8 na 16 h ligblootstelling vanaf 20 d ouderdom, in vergelyking met die kuikens wat aan 'n konstante 16-h lig blootgestel was. Braaikuikens wat konstante 8-h ligblootstelling ontvang het, het ongeveer die helfte van hul voerinname tydens die donker periode gevreet, terwyl die vergelykende syfer vir die 16-h ligblootstelling nie meer as 10% beloop het nie. Braaikuikens wat aanvanklik 8-h ligblootstelling gehad het, wat dan oorgegaan het na 16-h ligblootstelling op die ouderdom van 10, 15 of 20 d, het hul vreet-tempo tydens die donker verminder toe daar na die langer ligblootstelling oorbeweeg is. Hierdie braaikuikens het nietemin steeds meer voer tydens die 8-h van donker gevreet as braaikuikens wat deurlopend 16-h beligting ontvang het. Cobb en Ross genotipes hat soortgelyk op alle beligtingsbehandelings gereageer. Hierdie werk is veral belangrik ter illustrasie van die verbeterde doeltreffendheid van dieëtproteïenverbruik wat deur die gebruik van korter ligperiodes behaal word. Boonop sal elektrisiteitsverbruik aansienlik afneem indien braaikuikenprodusente die resultate van hierdie navorsing sou toepas.
5.29
Evaluering van "Distillers Dried Grains en Solubles" (DDGS) as 'n bron van proteïene vir hoenders en varke
Prof RM Gous
Geen vordering is gedurende die jaar gemaak met hierdie projek nie, hoofsaaklik omdat dit onmoontlik was om DDGS in die afgelope jaar na Suid-Afrika in te voer. In die tussentyd het die Suid Afrikaanse Regering daarteen besluit om mielies vir etanolproduksie in heridie land te gebruik, dus is die dringendheid om hierdie navorsing te voltooi, verminder. Desnieteenstaande het die PNS ooreengekom dat daar wel meriete is om voort te gaan met die navorsing, gegewe die feit dat daar groot hoeveelhede DDGS op die mark beskikbaar sal wees in die toekoms en dat hierdie produk moontlik die moeite werd sal wees om in die land in te voer indien die prys reg is.
5.30
Inkomste- en kosteramings
Mnr JSG Joubert
Inligting is gedurende die verslagjaar ingesamel in die Winterreënvalgebied ten opsigte van canola, lupiene en koring en in die Somerreënvalgebiede ten opsigte van sojas en mielies. Die inligting in die Winterreënstreek is vanaf Agribesighede bekom en so ook die inligting in die Somerreënvalgebiede ten opsigte van die Vrystaat en Noord-Wes terwyl dié ten opsigte van KwaZulu-Natal vanaf die Departement van Landbou in genoemde provinsie bekom is. Mpumalanga inligting is ingesamel deur middel van die groepbesprekings-tegniek. Die inligting wat ekonomies en tegnies/biologies van aard is, is verwerk en inkomste- en kosteramings van voormelde gewasse opgestel. Die hoofkomponente van so 'n begroting bestaan uit die bruto-inkomste, produksiekoste en bruto-marge op 'n hektaar basis. Die inkomste- en kosteramings is hoog in aanvraag en kan gebruik word vir verskillende doeleindes deur produsente, agri-besighede en finansieringsinstellings. Dit dien ook as belangrike voorligtingshulpmiddel vir voorligters.
Inkomste- en kosteramings van sojas en mielies is opgestel in die Somerreënvalgebied ten opsigte van die volgende gebiede:
Mpumalanga | – Kinross – Morgenson – Piet Retief – Groblersdal (besproeiing) |
Noordwes | – Brits / Koedoeskop / Makoppa – Koster – Lichtenburg / Coligny – Zeerust |
Free State | – Vrede en Frankfort – Reitz, Bethlehem en Harrismith |
KwaZulu-Natal | – Bergville – Karkloof – Paulpietersburg |
In die Winterreënstreek in die Wes-Kaap provinsie is inkomste- en koste ramings van canola, koring en lupiene opgestel. (Laasgenoemde is nie vir Malmesbury en Porterville opgestel nie).
Wes-Kaap | – Moorreesburg – Malmesbury – Porterville – Caledon / Riviersonderend – Bredasdorp / Napier – Swellendam / Heidelberg |
Inkomste- en kosteramings poog om 'n tipiese situasie, gegewe sekere bewerkingspraktyke, te weerspieël. Aanbevole praktyke en studiegroepgegewens is gebruik as inligtingsbron.
5.31
Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan modelle
Gedurende die verslagjaar is die APR en Nieuwoudt / McGuigan-modelle aanvullend tot mekaar gebruik om projeksies van proteïenbehoeftes vir 2010 en 2020 te doen. Beide modelle is deur die Universiteit van KwaZulu-Natal ontwikkel. In die geval van die APR-model was dit ontwikkel vir 'n doktorale studie wat deur die PNS befonds was en in die geval van die Nieuwoudt/ McGuigan-model vir 'n Magister studie. Laasgenoemde was deur die PNS geïnisieer en befonds.
Tans bedryf die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat beide modelle op kontrak vir die PNS en hou dit ook in stand.
Die APR-model word gebruik om die totale voergebruik, wat proteïen insluit, per dierspesie te verdeel waarna die Nieuwoudt/McGuigan-model gebruik word om projeksies te maak van proteïenbehoeftes vir 2010 en 2020.
Gedurende die verslagjaar is daar ook gesprek gevoer met beamptes van die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit van Pretoria insake die BFAP - (Bureau for Food and Agricultural Policy) model. Die BFAP model is 'n model met 'n wyer inslag wat wêreld- en plaaslike markte ontleed en op grond van basislynprojeksies en scenarios veranderings in die toekoms voorspel en die moontlike impak daarvan op plaaslike markte, boerdery en winsgewendheid en oorlewingsvermoë bereken. Dit voorspel byvoorbeeld wat sou gebeur met die bruto waarde van sekere sektore, oppervlakte onder gewasse, menslike- en dierlike verbruik van sekere kommoditeite asook toekomstige pryse van kommoditeite.
Die gesprek met BFAP het ten doel gehad om vas te stel wat die moontlikheid is om die drie (3) modelle te integreer ten einde 'n meer akkurate voorspelling te kan maak van toekomstige behoeftes van proteïen. Dit het geblyk nie sinvol te wees om die modelle te integreer nie maar eerder die BFAP model aanvullend te gebruik tot die bestaande PNS-modelle. Tydens die gesprek het die PNS ook sekere insette verskaf wat as 'n oefenlopie in die BFAP model ingevoer is. Daar is ook ooreengekom dat 'n soortgelyke werksessie in die komende jaar gehou sal word maar dat kundiges uit die belangrikste bedrywe betrek gaan word ten einde beter data aan die model te kan verskaf.
Dit word dan ook beplan om van die inligting wat hieruit sal voortspruit te gebruik as insette in die APR en Nieuwoudt / McGuigan-modelle.
5.32
PNS webtuiste
Die PNS se Webblad is nog steeds die belangrikste hulpmiddel om inligting te kommunikeer aan belanghebbendes. Verder word die Webblad ook gebruik om terugvoering te verskaf aan die PNS insake byvoorbeeld beurs en navorsingsprojekaansoeke. Byvoegings tot die Webblad wat populêr is, is inligting op die hoofbladsy wat aandui wat nuut opgelaai is op die Webblad. Verder is daar 'n toevoeging wat belangrike nuusbrokkies weergee. Die prysgrafiek van ingevoerde soja-oliekoek word ook op 'n daaglikse basis op datum gehou.
'n Lys van belangrike datums van toekomstige gebeure herinner besoekers om betyds reëlings te tref om die geleenthede van belang te kan bywoon. Flitse van belangrike keerdatums verskyn ook op die hoofbladsy.
In verlede jaar se verslag is gemeld dat 'n raamwerk vir 'n navorsingsdatabasis op die Webblad gelaai is waarin besonderhede van navorsingsresultate geplaas kan word. Die raamwerk is ingedeel volgens kommoditeite (byvoorbeeld sojas) onderwerpe (byvoorbeeld bemesting) en sub onderwerpe. Die benutting van proteïen deur diere vorm 'n ander been van die raamwerk. Gedurende hierdie verslagjaar is 'n aanvang geneem met die oplaai van inligting wat in dokumentêre vorm by die PNS-kantore beskikbaar is. Goeie vordering in dié verband is gemaak. Gedurende die verslagjaar is Biobrandstowwe ook as 'n nuwe hoof bygevoeg.
Koppelings met ander Webblaaie bly steeds 'n belangrike manier om die benutting van 'n Webblad te bevorder en is daar gedurende die verslagjaar met sestien (16) ander belangrike webblaaie gekoppel.
Die vernaamste verwysingsbron na die PNS-Webblad is nog steeds die soekenjins en word 70,7% van ons Webblad se besoekers via soekenjins verwys. Direkte besoeke is 20,6% en besoekers via ander Webblaaie is 8,7%.
Die belangrikste verwysingsbronne na die PNS-Webblad is AFMA, Aardvark, Google, SABA en SAGIS.
Heelwat besoekers word ook vanuit die buiteland waargeneem en was dit al in een spesifieke maand so hoog as 31% van die totale aantal besoekers.
Daar vind nog steeds 'n toename plaas in besoekers en is die aantal besoekers per jaar soos volg:
Verslagjaar |
Aantal besoekers |
2004 2005 2006 2007 |
1 691 3 285 4 552 5 404 |
Die eerste vyf maande van 2008 toon alreeds 'n besoekerstal van 5 205.