Navorsingsverslag 2007/2008

6.

 

Proteïenbronne


Indeks


6.1

 

Algemeen


Die PNS se aksies draai om proteïen vir diereverbruik soos hierbo reeds uitgespel. Van die groot verskeidenheid bronne wat in die verlede nagevors is, bly sonneblom en vismeel baie belangrik vir die PNS en die Suid-Afrikaanse veevoerbedryf.

Tans word daar egter volgens PNS beleid geen navorsingsfondse aan sonneblom toegestaan nie, terwyl ten opsigte van vismeel, wat tans slegs in 'n baie klein mate in veevoeding in Suid-Afrika gebruik word, daar geen behoefte aangedui is dat daar navorsingsfondse benodig word nie (die ander gewasse word hieronder in meer detail bespreek).

Mnr SJ Malherbe, Trustee wat die visbedryf op die PNS verteenwoordig het gedurende die jaar gemeld dat in 1995 die vismeel verbruik in Suid-Afrika 283 000 ton was, terwyl tans 40 000 ton plaaslik verkoop word. Hierdie afname word toegeskryf aan die feit dat die prys van vismeel so hoog is, asook die vervanging van vismeel met ander proteïenbronne in die voeding van diere. Hierbenewens is die vismeelbedryf onder druk as gevolg van probleme met visnavorsing. Daar is in sekere sektore van die visbedryf weinig wetenskaplikes oor om navorsing te doen maar gelukkig is daar wel in die mesopelagiese sektor wetenskaplikes beskikbaar vir navorsing. (Daar is reeds hierbo heelwat gesê oor 'n gebrek aan wetenskap­likes om navorsing te doen in Suid-Afrika). Volledigheidsonthalwe kan gemeld word dat die gemiddelde prys van vismeel in 2005 'n bedrag van R3 625.00 per ton beloop het en dat dit tot 'n gemiddeld van R5 800.00 per ton gestyg het in 2007. Die pryse was egter so hoog as R6 500.00 per ton. Hierdie styging in vismeelpryse was deels verantwoordelik vir die dramatiese afname in die aanvraag daarna.

Daar is reeds onder Beleidsbesluite hierbo berig dat die PNS besluit het dat geen verdere fondse aan Fababoonnavorsing beskikbaar gestel sal word na 28 Februarie 2008 nie.

'n Belangrike aspek wat tot groot hulp is in die bevordering van proteïenbronne is die Inkomste- en Kosteramings wat deur die Vise-Voorsitter van die PNS Mnr JSG Joubert saamgestel is en op datum gehou word. Sonder hierdie syfers sal die bevordering van die verskillende bronne prakties baie moeilik wees. Daar word meer volledig hieromtrent verslag gedoen onder die opskrif "Projekte".

Die aangekondigde biobrandstofbeleid waaroor reeds hierbo gerapporteer is het tot gevolg dat die hoë verwagtinge van meer proteïen uit die eta­nolbedryf nie sal materialiseer nie, maar die PNS vertrou dat daar wel groot vordering sal wees na aanleiding van die insluiting van sojabone as 'n moontlike grondstof vir biodiesel.


6.2

 

Sojabone


Sojabone bly steeds die belangrikste proteïen wat tans deur die PNS befonds word. Na die rekord aanplanting van meer as 240 000 ha in die 2006/07 seisoen het dit egter gedaal na 183 000 ha die afgelope jaar. Aanduidings vir die 2008/09 seisoen is dat 227 500 ha geplant gaan word. Die opbrengs die afgelope jaar het ongelukkig slegs 205 000 ton beloop teenoor die vorige jaar se 424 000 ton. Die PNS bly egter steeds baie optimisties oor die toekoms van sojabone in Suid-Afrika en verskeie maatreëls is in plek gestel om die uitbreiding van sojabone aan te help. Daar is reeds hierbo onder "Beleidsbesluite" in meer besonderhede gerapporteer oor die Sojadinkskrum wat plaasgevind het en voortvloeisels daaruit.

Die Sojaboonwerkgroep het die afgelope jaar weer 'n baie goeie bydra gelewer tot bevordering van sojabone en die oordrag van kundigheid. Die vergaderings word goed bygewoon en die besprekings geskied op 'n hoë vlak.

Die Sojaboonroestaakspan is ook die afgelope jaar onder die vleuels van die PNS geplaas en staan tans bekend as die PNS Sojaboonroeswerk­groep. Ook hier word baie goeie insette gelewer en die kruisbestuiwing tussen navorsers is van 'n hoogstaande gehalte.

Daar word jaarliks moeite gedoen om die Nasionale Sojabooncultivarproewe te besoek en verskeie aanplantings is ook die afgelope jaar deur PNS Raadslede besoek. Ongelukkig is die personeel van LNR-IGG wat hiermee gemoeid is onder groot druk, hoofsaaklik vanweë 'n mannekrag tekort. Meer hieromtrent word onder projekte gerapporteer.

Die PNS het steeds groot waardering vir die werk wat met die Super Sojakompetisie gedoen word deur al die betrokkenes onder leiding van Mnr Carel Havenga (PNS kontrakteur) en Mnr Johann du Plessis, die Voorsitter van die Super Sojakompetisie. Die PNS dra sy dank aan hulle en hulle span oor vir hulle volgehoue ywer. Meer hieromtrent word onder Projekte gerapporteer.

Die koms van biodiesel het tot gevolg gehad dat sojaboonpryse wêreldwyd baie gestyg het. Teen die huidige pryse is dit baie lonend vir produsente om sojabone te produseer en die PNS vertrou dat dit in die volgende paar jaar grootliks sal bydra tot aansienlike uitbreiding. Soortgelyk vertrou ons dat daar wel 'n biodiesel aanleg in Suid-Afrika gebou sal word wat sojabone as grondstof gebruik. So 'n situasie sal 'n aansienlike verskil maak in die vraag na sojabone en gevolglik ook die aanplant van groter oppervlaktes onder sojabone.


6.3

 

Canola


Canolaproduksie het die afgelope paar jaar redelik gestagneer en is die swaai van koring na canola aansienlik minder as die vorige paar jaar. Die afgelope seisoen is slegs 33 260 ha canola geplant met 'n totale opbrengs van 38 150 ton. Uit hierdie syfers blyk dit baie duidelik dat opbrengste van canola verhoog moet word om dit meer kompeterend met koring te maak. Alhoewel canola 'n goeie wisselgebougewas is vir koringprodusente en ook die feit dat 'n wisselboustelsel waarin canola ingesluit word, meer ekonomies is as daarsonder het nog nie die nodige inslag by produsente gevind nie. Die skitterende werk wat deur Dr Mark Hardy gedoen word in beide die Swartland en die Suid-Kaap sal hopelik meer produsente onder die indruk bring van die belangrikheid van canola in 'n wisselboustelsel (meer besonderhede hieromtrent onder projekte).

Die Canola Fokus wat deur die PNS befonds word, is steeds die amptelike mondstuk van die canolabedryf en die PNS spreek sy hartlike dank uit teenoor die redaksie en almal wat bygedra het om van die Canola Fokus 'n sukses te maak. Alle inligting wat voorheen in die Canola Fokus opge­neem is, is ook op die PNS webblad beskikbaar.

Dr G Tribe maak besondere vordering met die werk wat hy doen in 'n poging om peste- en plae by canola meer aan bande te lê (sien projekte). Skade is egter nog aansienlik en het waarskynlik 'n invloed op die produsente se besluit om nie groter hoeveelhede canola aan te plant nie.

Die Canolawerkgroep van die PNS is een van die suksevolste werkgroepe van 'n aantal werkgroepe wat onder die vaandel van die PNS funksioneer. Die PNS is veral dankbaar dat so 'n wye verskeidenheid van dissiplines op 'n baie gereelde basis die werkgroepvergaderings bywoon. Besondere insette word gelewer en dien die werkgroep 'n baie besondere doel om tegnologie-oordrag van alle aspekte van canola moontlik te maak.

Detail omtrent die sogenaamde "Super Canolakompetisie" en die "Inkomste- en Kosteramings" waarna hierbo verwys is, kan ook bestudeer word onder die opskrif "Projekte".


6.4

 

Lupiene


Mnr Herman Agenbag, kontrakteur van die PNS en uitstaande kundige van die lupienbedryf, het op 31 Desember 2007 finaal uitgetree. Die PNS bedank hom vir al die jare wat hy die lupienbedryf bevorder het en vir sy gewilligheid om altyd beskikbaar te wees wanneer probleme opgeduik het.

Ongelukkig het die lupienbedryf nie die groei getoon wat die fondse wat aan Lupien bestee is kon regverdig nie. Die PNS Raad het dus finaal be­sluit dat geen verdere fondse aan lupiene beskikbaar gestel word na 31 Desember 2008 nie.

Die inligtingsblad "Lupino" word steeds versprei en ook in hierdie geval word die redaksie hartlik bedank vir die insette om van die "Lupino" 'n sukses te maak.

Die afgelope seisoen het daar vir die eerste keer bruinblaarvlek in die lupiene verskyn en sal goed dopgehou moet word in die komende seisoene.

Lupiene bly steeds 'n belangrike proteïenbron en het 'n spesifieke plek in die wisselboustelsels in sekere dele in die Winterreënvalstreek.

'n Lupienhandleiding wat deur Mnr H Agenbag saamgestel word, sal 'n belangrike bron van inligting wees vir diegene wat steeds met lupienpro­duksie voortgaan. Die PNS vertrou dat hierdie nalatenskap 'n getuie sal wees van etlike miljoen Rand wat die PNS aan lupiennavorsing oor die afgelope 10 jaar bestee het.